Julle staan in die oggend saam op, gaan saam werk toe en gaan in die middag weer saam huis toe. Kan dit werk om saam met jou geliefde te werk?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Baie ondernemings word deur paartjies bestuur of in ander gevalle het huweliksmaats mekaar juis by die werk ontmoet … Maar gaan dit nie probleme in jul verhouding veroorsaak nie en is te veel van ‘n goeie ding goed?
Gawie en Susie Pretorius van Secunda het aan die begin van hul saamwerkery gewonder hoe hulle dit gaan laat werk, maar Susie vertel dat hulle wel vir dieselfde maatskappy werk, maar nie mekaar gereeld deur die dag sien nie.
“Ons ry nie eens saam werk toe nie en is dus nie die heeldag in mekaar se geselskap nie. Daar is wel ander uitdagings … Ons werk vir ‘n familie-onderneming, dus moet jy probeer om jou persoonlike gevoelens daaruit te hou en dit as ‘n werk en nie as ‘n hartsaak te bestuur nie. Ons moes ook leer om nie toe te laat dat die werk ons gesprekke in die aand oorheers nie. Ons wend ‘n daadwerklike poging aan om saans saam te ontspan en tyd met ons kinders deur te bring.”
Leané en Louw Roos van Krugersdorp is in die landskapsbedryf waar Louw met rehabilitasie en sport-en-rekreasie-ontwikkeling gemoeid is terwyl Leané onder meer die administrasie hanteer. Leané sê hulle is al 15 jaar getroud en van die 15 jaar het hulle 12 jaar saamgewerk.
“Ek het in 2013 vir ‘n ander maatskappy gewerk en dit was die moeilikste jaar van ons huwelik. Ek het ook elke dag na Louw verlang.”
Vir Leané is die grootste voordeel van hul saamwerkery dat sy as ma dadelik vir haar kinders beskikbaar kan wees.
“Nog ‘n pluspunt is dat ons ons maatskappy se belange saam op die hart dra en doelgerig op die doelwitte en spertye fokus.”
LEES OOK: Help, my kinders emigreer!
Soos Gawie en Susie is hulle ook nie heeldag in mekaar se geselskap nie.
“Louw se dag begin so vyfuur in die oggend. As ek op kantoor kom, drink ons saam koffie om die dagtake te bespreek en dan gaan hy uit na sy terreine.”
Leané sê daar is wel nadele. “Ons kan soms op mekaar se senuwees werk as die druk kwaai is. Ons het ‘n reël om dan nie persoonlik te raak nie. Dis ook vir my swaar as Louw met my moet praat as ek iets verkeerd gedoen het. Ek respekteer dit egter, want dis werk.”
Ons geheim
Leané en Louw sê hulle weet dat albei doelwitte, take en ‘n plek in die onderneming het. “Ons meng nie met mekaar se dagtake in nie en is albei oop vir voorstelle om mekaar se werkslas te verlig. Ons handhaaf ‘n professionele verhouding en noem nie eens aan kliënte dat ons getroud is nie.”
LEES OOK: As jy en jou maat oor geld stry
Die paartjie sê hulle glo nie daaraan om werk huis toe te neem nie, maar as dit gebeur, plaas hulle ‘n tydsbeperking daarop.
“Ons goue reël is om elke dag oor die dag te gesels. Die kinders weet as die deur toe is, moet hulle ons nie steur nie, want dan is dit Ma en Pa se tyd. Ons beste wenk is beslis oop kommunikasiekanale.”
Nog raad
Die webwerf www.entrepreneur.com gee die volgende wenke vir ‘n suksesvolle werksverhouding:
1. Probeer ‘n balans hou
Dis nie altyd moontlik om jou persoonlike en werkslewe onafhanklik te hou nie, maar dis belangrik om wel by die huis te ontspan en ‘n bietjie af te skakel en van werk te vergeet. Probeer om by die huis oor jul persoonlike kwessies en nie net werk nie te gesels.
2. Gebruik jul sterk punte tot jul voordeel
As julle saam werk, gesels oor jul verantwoordelikhede en verskillende rolle. Wat is jul elkeen se belangstellings? Wat is jul swak en sterk punte? Wees regverdig met die verdeling van rolle.
3. Besluit saam op ‘n doelwit
Gesels oor wat julle saam wil bereik in jul onderneming en meet jul vordering daaraan.
4. Respekteer jou maat
Respek is in enige verhouding belangrik, maar as daar besigheid by betrokke is, kan die gemoedere soms hoog loop. As julle kwaad vir mekaar raak, bly respekvol en probeer om die ander se standpunt in te sien. Moet veral nie voor kollegas in argumente betrokke raak nie.
5. Onthou jul verhouding kom eerste
Bou ‘n sterk emosionele grondslag met jou maat om só te sorg dat jou werksverhouding ook sterk is. Ondersteun mekaar en skenk aandag aan mekaar se behoeftes.