Ons almal soek die beste vir ons kinders en dit sluit in om hulle eendag as gelukkige, suksesvolle volwassenes te sien. Hoe kan jy hulle help?
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Danksy navorsers het ons vandag ‘n beter idee van wat vir ons kinders werk en wat nie.
Hier is ‘n paar bevindinge wat al gemaak is en wat jou kinders kan help.
1. Moenie vir hulle sê hulle kan enigiets word wat hulle wil nie
‘n Opname in Amerika het getoon dat jongmense deesdae net in sekere beroepe belangstel. Dis beroepe wat opwindend klink soos professionele sportsterre, musikante, rekenaarspeletjie-ontwerpers en dies meer. Ouers moet hul kinders help om bewus te word van beroepe waaraan daar tekorte is en wat vir hulle ‘n toekoms kan bied. As dit by beroepskeuses kom, stuur jou kind vir ‘n toets en doen navorsing oor watter vaardighede daar ‘n tekort aan is.
2. Eet saam as gesin
Baie studies is al gedoen oor die voordele van gesinsetes en daar is al herhaaldelik bevind dat kinders met ‘n beter woordeskat, selfbeeld en gemiddeld spog as hulle deur gesinsetes ‘n band met hul mense bou.
3. Skermtyd
Ja, tegnologie is fantasties, maar kinders moenie te lank aan skerms blootgestel word nie. Daar moet mediavrye sones in die huis wees en beperkinge vir kinders.
LEES OOK: Is my kind reg vir skool?
4. Laat jou kinders takies doen
Volgens ‘n studie is takies in die huis baie belangrik vir kinders se toekomstige sukses.
5. Onthou ‘n ding soos uitgestelde bevrediging
Het julle al gehoor van die malvalekker-eksperiment in 1972? ‘n Malvalekker is voor ‘n kind neergesit met die belofte van nog ‘n ene as hy of sy kon wag tot die navorsers ná 15 minute terugkeer om dit te eet. Opvolgstudies oor die volgende 40 jaar het getoon dat die kinders wat die malvalekker kon weerstaan volwassenes met beter sosiale vaardighede en hoër punte geword het. Jy kan jou kind help om hierdie vaardigheid te slyp deur hulle te leer om takies elke dag te verrig al is hulle nie lus daarvoor nie.
6. Lees vir jou kinders
‘n Opname het die volgende interessante bevindings gebied, babas wie se ouers vir hulle gelees het, het vier jaar later ‘n baie beter begrip van taal, geletterdheid en vroeë leesvaardighede gehad as die wie se ouers nie vir hulle gelees het nie.
LEES OOK: 10 dinge wat elke kind wil hoor
7. Moedig hulle aan om te reis
Reis het soveel voordele vir mense: jy leer meer van ander kulture, jy raak meer uitgaande, meer aanpasbaar; en verhoog jou verdraagsaamheid.
8. Laat jou kind uit mislukkings leer
Volgens dr Stephanie O’Leary, skrywer van Parenting in the Real World: The Rules Have Changed, is mislukking vir kinders op verskeie vlakke belangrik. Dit leer hulle om die lewe en sy uitdagings te hanteer en dit bied vir hulle die kans om hard te werk, deur te druk en weer te probeer. Sê vir jou kind dat jy weet dat hy sukkel, maar dat jy ook weet dat hy sal deurdruk en sy bes probeer en enige gevolge kan hanteer, is Stephanie se raad.
BRON: https://www.inc.com