Jackie Pienaar-Brink het Soedan – ’n land waar toerisme nog in sy babaskoene is – onlangs besoek. Hier onder gee sy bietjie algemene inligting.
- Suid-Afrikaners benodig ‘n visum om Soedan te besoek.
- Al is die Amerikaanse sanksies teen Soedan in Oktober verlede jaar opgehef, kan mens steeds nie met ‘n kredietkaart daar betaal nie. Dit beteken dat ‘n besoeker Amerikaanse dollars moet saamneem.
- Sedert die opheffing van sanksies is die verpligte reis-en-foto-permit vir toeriste wat buite Khartoem wil reis, opgehef. Dit geld egter steeds buitelanders wat daar werk en is by die ministerie van toerisme in Khartoem beskikbaar.
- Hoewel ons net vriendelikheid en gasvryheid ervaar het, is dit waarskynlik onwys om na Darfoer in die weste of die suide van die land te reis sonder om vooraf behoorlike kennis oor die veiligheidsituasie in te win.
- Verruil jou Amerikaanse dollars vir Soedannese pond voordat jy op ‘n ekskursie gaan. Hoe verder weg jy van Khartoem gaan, hoe moeiliker gaan dit raak.
- Een toeragentskap wat hom stewig in Soedan gevestig het en wie se dienste aanbeveel kan word, is die Italian Tourism Company (http://www.italtoursudan.com/). ‘n Opkomende plaaslike agentskap wat deur ‘n plaaslike gids aanbeveel word, is Raidan Travel & Tours (http://www.raidantravel.com/).
- Dis wys om van ‘n plaaslike gids gebruik te maak op ekskursies soos ‘n besoek aan die Meroë-piramides, ‘n Wêrelderfenisgebied sowat 220 km noord van die hoofstad, Khartoem. Hoewel ‘n dagtoer moontlik is, is dit effens gejaagd omdat dit sowat vier uur kan duur om net daar te kom. Indien jy wil oorslaap, is die Meroe Tented Camp van die Italian Tourism Company sowat 4 km daarvandaan ‘n goeie idee.
- Indien jy enige woestynekskursies gaan onderneem, is ‘n nekdoek (buff) wat jy oor jou mond en neus kan trek asook ‘n sonbril onontbeerlik. Die fyn woestynsand is geen grap wanneer die wind opkom nie. Onthou ook net dat temperature van meer as 40 °C nie ongewoon is nie en dat jy jou eie water moet saamneem. Moet beslis nie daarop reken dat jy dit by toeristeattraksies gaan kan koop nie. En ook nie dat mense Engels gaan magtig wees nie.
- Neem in ag dat die meeste ondernemings op Vrydae toe is in hierdie oorwegend Moslemland.
- Respekteer die plaaslike gewoontes en onthou dat die geen-alkohol-beleid baie streng toegepas word.