In die Vrouekeur van 27 Oktober 2017 is daar op bl24 ’n artikel oor enkelpa’s. Hier is ekstra inligting
“Een van die wanpersepsies rondom enkelpa’s is dat vroue huiwerig is om ’n verhouding met so iemand te hê, laat staan nog om met ’n enkelpa te trou,” sê Liesl Saayman, lewensafrigter.
“Ons leef in ’n samelewing waar daar vroue is wat glad nie kinders wil hê nie en nie eens daaraan sal dink om ’n verhouding met ’n enkelpa te hê nie. Daar is egter baie vroue wat graag wil kinders hê of reeds kinders het en ’n toekoms met ’n gesamentlike huishouding kan sien. Sommige vroue kan in so ’n situasie egter hul eie kinders eerste stel en nie probeer om vir jou kinders ook ’n ma te wees nie.
“Die goue reël is dat indien ’n vrou nie in jou belangstel nie omdat jy ’n enkelpa is, of wel in jou belangstel maar nie daarvan hou dat jy ’n enkelpa is nie, jy moet besluit of jy werklik daardie vrou in ’n posisie wil plaas waar sy jou kinders se stiefma is. Indien sy van die begin af ’n probleem met jou kinders het, watter tipe versorging gaan sy aan jou kinders gee? Wat gaan haar langtermyn-gesindheid teenoor hulle wees? ’n Enkelouer is deel van ’n pakket en daar is genoeg spesiale persone daar buite wat graag die hele pakket sal aanvaar. As iemand nie van die pakket hou nie, loop liewer weg voordat jy in ’n situasie beland wat net op konflik en struweling kan uitloop.”