Ek lees nou die dag hierdie vraag raak in ’n onderhoud en wonder terstond, wat sou my raad vir ’n jong Zerelda gewees het?
Dalk die volgende:
- Vat jou nommer-agt-jeans en raam dit. Moenie vrae vra nie – doen dit net.
- Moenie met jou eerste salaris vir jou ‘n nuwe duvet en ‘n rooi broek koop nie. Leer om te spaar en vergeet hoe lekker dit is om te spandeer. Moet veral nie winkelkaarte kry nie. Die enigste ding wat jy nie kan weerstaan nie, is ‘n versoeking.
- Jou koskaart op varsity beteken nie dat jy vir 365 dae Smartie Cups moet koop nie. Koop nou en dan pampoen en groenboontjies ook.
- As ‘n outjie met bruin hare en bruin oë vir jou in matriek ‘n “PS I love you”-tjoklit gee, moenie vir hom ‘n afsêbriefie gee nie, want jy gaan nog vir jare daarvan hoor. Nee, sê sommer dadelik: “Met jou gaan ek trou”. Daai man is amper jou presiese teenpool, maar hy gaan ná jare van saamwees steeds dink jy is die wonderlikste en mooiste mens op aarde, hy gaan jou vele kere laat huil van die lag en ‘n fantastiese pa vir jou kinders wees. Kyk, jy gaan hom wil aanrand ook, veral oor sy liefde vir alles met ‘n klein appeltjie op, maar hy is een van jou beste besluite.
- Moenie maak asof jy ‘n asma-aanval gaan kry as jy moet langafstande hol nie. Jou heupe en boude gaan binnekort epidermiese proporsies kry, dis nou die tyd om te begin oefen en aan te hou daarmee. Dit raak al hoe moeiliker soos jy ouer word.
- Bly weg van tequila as ‘n student – ek herhaal, bly weg van tequila.
- Jy gaan deur ‘n paar weird mode- en haarfases gaan. Jy gaan onder meer soos ‘n karakoelskaap lyk – ‘n lang karakoelskaap. Moet geen rekords daarvan hou nie. Vernietig foto’s soos dit verskyn.
- As jy swanger word, is dit ook nie nodig om te eet asof jou en jou kind se lewe daarvan afhang nie. Eet net normaal en kry ‘n siffie voor jou snawel.
- Jy gaan allerlei idees voor jou kinders se geboorte hê en jouself met ‘n pragtige, rosige baba wat kraai van die lag in die park sien. Nee, suster, jou kinders gaan jou kop af skreeu en dit gaan lank vat voor jy jou gesig in die beskawing gaan wys. Moenie alles glo wat Dokter Google jou wysmaak nie, jy gaan jou kinders groot kry en jy hoef nie elke week kliniek toe te gaan om te wys dat jou baba nog ‘n week van jou ouerskap oorleef het nie.
- Drink ‘n tjilpil – sommer drie – en dink voor jy met jou kinders praat. Geniet hulle, want jou liefde vir hulle gaan jou verstom en jou ook bang maak. Jy gaan vrek oulike kinders hê en jy moet hulle waardeer. Al maak hulle jou vies en pas hulle nie in jou eie vooropgestelde boksies nie.
- Moenie van jou kinders verwag om alles te wees wat jy was en ook nie kon wees nie. Hulle gaan nie noodwendig van dieselfde goed as jy hou nie en dis ook reg so. Hulle hoef nie “mini-me’s” te wees nie.
- Daar gaan ‘n tyd kom wat jy wonder: Is dit nou dit? Dan my, liewe Zerelda, is dit tyd vir bestekopname. Kry idees vir daai boek wat jy wil skryf, maak planne, kry nuwe drome. Jy is dikwels jou eie grootste vyand.
- Waardeer die mense in jou lewe. Hou kontak, sê vir mense jy is lief vir hulle en al stry julle soms, is dit ook oukei.
- Sodra jy begin werk, kry vir jouself ‘n dagboek. Jou eie vergeetagtigheid en deur-die-dinges-geit gaan jou nog teen die mure uitdryf. Skryf elke liewe ding neer, jy begin dit eers teen amper 40 doen en dis dan veels te laat! Jy verpes enigiets wat met admin te doen het, maar heerlikheid, doen tog net jou bes.
- Jou kinderjare was nie maklik nie, maar ander mense s’n was veel erger. Jy kon in die Sahara sonder water grootgeword het en ek weet jy kan nie hitte vat nie … Kom oor dit wat sleg in jou lewe was. Maak vrede.
- En Zerelda, my hartjie, moenie so met jou ma baklei nie. Sy is ‘n wonderlike mens en sy maak eintlik heel geldige punte. Maak nie saak hoe jy rebelleer nie, jy gaan nooit met ‘n vuil kombuis gaan slaap nie en ja, mens moet met ‘n heel en mooi panty aanhê, want wat as jy in ‘n ongeluk is …
Wat sal jy vir jou jong self wil sê? Deel dit met ons!
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.