“Ek’s mal oor my kinders, maar … “ Hoeveel keer het jy al die woorde gehoor en moenie bekommerd wees nie. Ek oordeel nie! Ek sê dit ook baie: “Ek is mal oor my kinders en ek is vreeslik baie lief vir hulle, maar flip, ouerskap is gʼn grap nie.”
Ek lees nou die dag weer een of ander oorsese celeb se storie. Sy vertel hoe oulik en dierbaar haar kinders is, maar hoe moeilik dit vir haar is om die uitdagings van mawees te hanteer. Nou as sy so sukkel – en ek is seker sy het ʼn kinderoppasser en gretige arms wat help – wat moet die res van ons sê? Ons moet ons kinders sonder die luukse van Amerikaanse dollars groot kry.
Een van my vriendinne erken sonder skroom sy is nie vir kinders in die wieg gelê nie. Hulle is oulik en pragtig en als, maar sy gaan in die aand na ʼn rustige huis toe. Ouers se huise is gewoonlik nie rustig nie. So kort voor die skoolvakansie, het ek gevoel my lont is weer besig om kort te word. Alles het my geïrriteer en die kinders was besig om die grense (ook van hul ma se geduld) te toets. Toe kom die skoolvakansie en ek moet plan met hulle maak terwyl ek werk. My wonderlike ma het spesiaal verlof gevat en hulle is vort.
Ewe skielik is ons huis rustig en skoon in die aand as ons by die huis kom. So halfvreemderig soos iemand anders se huis. Dis asof ʼn mens nie weet wat om met jou hande en jou tyd te doen nie. Ek maak skaars kos en my man wys vir die kinders sy roosterbrood met Marmite op Video Call: “Dis wat ek kry as julle nie hier is nie.” Die huis is onrusbarend stil en Sofia, die kat, dwaal van vertrek tot vertrek. Lulu, die labrador, loer in die middag opgewonde waar die kinders is, maar gaan lê dan weer druipstert.
Kyk, ek gaan nie vir julle jok nie. Die eerste dag of twee is wonderlik en dit voel asof jy wil huppel en iets uit The Sound of Music jubel en jy kan ewe skielik jou TV-programme kyk en jy en manlief kry kans om regtig te praat en net te doen wat ons wil en wanneer ons wil. Jy bel jou vriende wie se kinders ook by vriende kuier en julle gaan na ʼn grootmensrestaurant en gesels sonder om rond te kyk en jou oor kleinstes te bekommer. As kinders jil en roep dan kyk ʼn mens nog om net om te besef dis nie jou probleem vandag nie!
Maar dan begin ʼn mens jou klein mensies mis en jy weet jou huis is nie vir rus en stilte bedoel nie. Dis bedoel vir leef, lag en raas.
Ek’s mal oor my kinders, maar … dis lekker as ek ʼn breuk van hulle kry en dis nog lekkerder as ek hulle weer terugkry.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.