Wietske Boon, ‘n Gautengse spelterapeut, sê daar is ‘n sekere samelewingstandaard. Probleme kan ontstaan wanneer ouers bevrees is dat as hul kind nie aan hierdie standaard voldoen nie, gaan hulle nie aan die samelewing se vereistes voldoen nie.
UITBRANDING EN OUDERDOMSTOEPASLIKHEID
“Ek het ongelukkig al baie drie- en vierjariges teëgekom wat angstig is omdat hulle nie kan cope nie. Die druk is te veel om dinge op ‘n spesifieke manier te doen,” sê Wietske.
Ouers kan nie klein grootmensies grootmaak nie. Daar is party ouers wat hul kinders druk om ‘n sekere vaardigheid te bemeester. As hulle kuier is daar ‘n kompetisie oor “Wie se kind is die oulikste. Wie s’n praat die meeste? Watter ene hardloop die vinnigste?”
Elke kind moet net ‘n bietjie ouliker wees as ander s’n.
“Ek vind ook dat aktiwiteite nie altyd ouderdomstoepaslik is nie. Ouers raak bekommerd as hul kind op drie nie patroontjies kan vorm nie, terwyl ek voel kinders van dié ouderdom kan teken en inkleur, maar hoef eers in die tweede helfte van hul graad R-jaar werksvelle te begin voltooi,” sê Wietske. Sy sê ‘n kind moet darem ‘n sekere ouderdom bereik voor daar van hom verwag kan word om in ‘n ry stil te staan en sy beurt af te wag. Of in ‘n halfuur-klassie kan konsentreer. Of besef hulle mag nie ‘n ander kind terugslaan nie.
Die boksie-analogie spoel ook op sosiale vlak oor.
Ek sien veral by kleintjies dat ouers gou bekommerd raak as hul kind nie ‘n klomp maats het nie. Of as hulle op ‘n baie jong ouderdom nie weet hoe om konflik te hanteer nie.
AANMOEDIGING VERSUS AANVAARDING
“Ek kom agter kinders dink as hulle nie goed genoeg doen nie, gaan hulle nie goed genoeg vir hul ouers wees nie,” sê Wietske.
Dit wys weer hoe belangrik dit is dat ouers hul kind aanmoedig om op die proses van ‘n aktiwiteit of waarmee hul kind besig is, te fokus en nie op die resultaat nie. Ouers bedoel glad nie om hul kind te laat voel hulle is nie goed genoeg nie, maar hul kind ervaar dat hul nie aanvaar word as hul iets nie regkry nie.
Die ouers se hantering van wanneer ‘n kind ‘n fout maak, het ‘n impak op die kind se ervaring van akademie of buitemuurs. As ouers oorreageer, ervaar ‘n kind dit baie negatief.
Baie kinders wil nie eers probeer nie, want hulle is bang hulle maak ‘n fout.