Leef stadiger, leef aandagtig, word rustig. Ons hoor hierdie woorde gereeld, maar doen ons iets daaromtrent? Het jy al die lekkerte daarvan ontdek om net nou en dan niks te doen nie?
Deur: ZERELDA ESTERHUIZEN
Ek sê dikwels vir my kollegas ek is lus en sit net iewers en staar in die niet in. Vir wat? vra hulle gewoonlik, want sekerlik as jy ‘n af tydjie het moet jy elke oomblik benut? Dinge doen, plekke sien?
Maar is dit nie dalk goed om nou en dan net mooi niks te doen nie? Dit is asof dit vandag ‘n statussimbool geword het om so besig as moontlik te wees.
Die moderne lewe beweeg teen ‘n verbysterende pas. Dis werk, dis huis, jou geliefdes, en dan is dit nog tegnologie wat ons op hoogte hou van wat elke sekonde in die res van die wêreld aangaan. Dis asof ‘n mens konstant ‘n oorlading van inligting het.
Jy weet van ‘n bom wat ontplof het, jy hoor van ‘n aardbewing wat gebeur het, jy lees van ‘n orkaan wat iewers heen op pad is. Al die wanhoop en pyn in die wêreld voel asof dit nou reg op jou voorstoep is.
As ‘n mens werk toe ry, luister jy na die radio, as jy TV kyk, sit en loer jy wat op Facebook aangaan, terwyl jy kosmaak, kyk jy gou na jou e-posse op jou rekenaar en voor jy gaan slaap kyk jy na ‘n TV-program …
Vra ‘n mens iemand hoe gaan dit, hoor jy dikwels die woorde “besig”, “erg” of “hectic”!
Waarom het ons slagoffers van hierdie dis-cool-om-jou-dood-te-werk-sindroom geword?
Die Italianers weet duidelik meer as ons, want hulle het ‘n begrip “La Dolce Far Niente” – die lekkerte daarvan om niks te doen. Hulle weet hoe heerlik én belangrik ‘n middagslapie is, hoe lekker dit is om saam met jou geliefdes te sit en te kuier, hoe salig dit voel om in die aand ‘n ent te gaan stap …
Dr Colleen Long, die skrywer van Happiness in balance, skryf op www.psychologytoday.com die volgende: “In plaas van Facebook, e-pos, TV of videospeletjies vanaand, hoekom doen jy nie net niks nie? In plaas daarvan om jou vakansiedae te hou vir eendag, hoekom vat jy nie ‘n paar uur nou en dan en doen iets lekkers net vir jouself nie? Hoekom probeer jy nie om nie net op naweke te ontspan nie? Sit en lees ‘n boek, kyk by die venster uit, sit op jou stoep en luister na musiek.”
Dr Samantha Boardman, ‘n Amerikaanse psigiater, skryf dat studies toon dat om alleen iets (of niks!) te doen baie belangrik vir die ontwikkeling van die self is. Dit word met vryheid, kreatiwiteit, geestelikheid en intimiteit geassosieer.
Wat kan jy vandag doen om niks te doen nie?
1. Kry ‘n digitale detoks
Ons praat hier van als wat met tegnologie te make het. Ignoreer Facebook, Twitter, jou WhatsApp-groepe, die sepie op die kassie …
2. Vat elke dag 15 minute vir jouself
Dr Samantha Boardman sê dis baie belangrik om ‘n kwartier elke dag te vat om niks te doen nie. Moenie dink dat jy tyd mors of angstig raak omdat jy nie konstruktief besig is met iets nie, geniet die tyd en word rustig.
3. Haal net asem
Fokus op jou asemhaling. Haal diep asem en ja, jou brein gaan vinnig weer na al wat onderwerp is spring, maar probeer om net weer op jou asemhaling te fokus. Herinner jouself om op die hier en die nou te fokus.
4. Stap sonder ‘n doel
Daar is ‘n woord daarvoor as jy net loop sonder enige doel en dis “bumbling”. Gaan stap, maar loop rustig en kyk om jou rond. Neem jou omgewing in.
5. Kry vir jou ‘n rusdag
Eens op ‘n tyd was ‘n Sondag baie rustiger as nou. Gebruik een dag per week om te rus en nie skoon te maak, winkels toe te gaan of op werk in te haal nie. Wees gaaf met jouself en doen iets wat jy geniet.
6. Lê op die gras en kyk na die wolke
Wanneer laas het jy op ‘n kombers gelê en net na die lug gekyk? Lê op die naat van jou rug, luister na die geluide om jou en ruik die gras.
7. Vat ‘n slapie
‘n Slapie ná middagete is ‘n wonderlike ding. Moenie joune oor ‘n naweek opgee vir ander dinge nie – selfs al lê jy net op die bed vir 10 minute.
8. Wees ‘n stoepsitter
‘n Wyntjie op ‘n stoep is ‘n heerlike manier om ‘n dag mee af te sluit. Gesels met jou geliefdes en sit rustig en gesels.
9. Vergeet van takies
Soms moet ‘n mens net vergeet van die bondel wasgoed wat wag of die sitkamer wat vol speelgoed lê. Ontspan, die wêreld gaan nie vergaan as jou huis deurmekaar is nie.
Bronne: www.psychologytoday.com, https://blogs.wsj.com