Ons leef in ʼn era waar mense uit oorloggeteisterde lande vlug. Ons lees van ʼn verdeelde wêreld – van leiers sonder integriteit. Presidente sonder morele gewetes.
Hoop word verpletter.
Ons leef in ʼn era wat mense wreed in hul huise vermoor word. Die een plek waar jy veilig moet voel.
Lewens word verpletter.
Ons leef in ʼn era wat mense se kommer, woede en aggressie buite beheer raak en dit word in ons samelewing weerspieël.
ʼn Samelewing word verpletter.
Dit is die era waarin ons ons kinders moet grootmaak.
En jy kan nou sê “Zerelda, dis niks nuuts nie” en ek weet dit. Deur die eeue heen is mense vervolg en was daar haat en onverdraagsaamheid. Mense is weens hul geloof, seksuele oriëntasie of wat ook al vervolg. Party mense het nie juis ʼn rede nodig om te haat nie.
Dis ons wêreld. En in hierdie wêreld moet ons ons kinders grootmaak en hulle help om goeie mense te word.
Wat kan ʼn mens jou kind leer? Ek voel sterk daaroor dat dit respek vir ander mense moet wees. En menslikheid en empatie loop hand aan hand aan respek.
Ek wil my kinders leer om hulself in ander mense se skoene te plaas.
Ek wil my kinders leer dat mense verskil. Daar gaan altyd mense wees wat anders as hulle lyk, anders as hulle dink, en dinge anders as hulle ervaar, maar hulle moet gerespekteer word.
Ons is nie dieselfde nie en dit maak ons wêreld kleurryker én interessanter.
Ek wil my kinders leer om mure af te breek eerder as om mure tussen mense op te rig en mense af te breek.
Dalk kan ons as ma’s die wêreld só verander – een kind op ʼn slag.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.