Het jy al van die KonMari-metode gehoor? Dis ‘n metode om finaal van onnodige goeters in jou huis ontslae te raak
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Het jy al een van daardie Amerikaanse realiteitsreekse gekyk waar die mense se kamers soos negosiewinkels lyk? Daar is net goeters en goeters …
Wel, ons almal het seker iewers goeters wat jou pla, wat jy weet jy moet uitsorteer, maar die krag en die lus ontbreek.
‘n Chaotiese huis kan ‘n mens moeg en moedeloos laat voel en dit kan jou stresvlakke laat styg. Marie Kondo, die stigter van die KonMari-metode, sê dis egter moontlik om finaal van wanorde in jou huis ontslae te raak.
Haar boek The Life Changing Magic of Tidying: A Simple, Effective Way to Banish Clutter Forever help jou om by die wortel van jou probleem uit te kom.
Hier is ‘n paar beginsels van die KonMari-metode:
- Maak als op een slag skoon. Dit werk nie volgens Marie om oor ‘n tydperk jou huis reg te ruk nie. Dinge word net te gou weer vuil en deurmekaar. Maak daarvan ‘n projek wat moet klaarkom en moenie uitstel nie.
- Visualiseer die finale prentjie. Voor jy dinge begin weggooi of weggee, besluit hoe jou ideale lewenstyl moet lyk. Dink konkreet: “Ek wil nie oorvol laaie wees nie en geen gemors wat op kaste rondstaan nie.”
- Vra jouself hoekom. As jy byvoorbeeld klottervry wil leef sodat jy in die aand beter kan slaap, vra jouself waarom? Doen dit drie tot vyf keer. As jy die antwoord gevind het, is jy reg om aan te beweeg met die regte motivering.
- Maak jou goeters jou gelukkig? As jy met ‘n artikel in die hand sit en moet besluit of dit moet bly of gly, vra jouself af of dit vir jou enige vreugde bring. As die antwoord “ja” is, moet dit bly, as dit “nee” is, moet dit gly. Marie sê dis nie ‘n intellektuele proses nie, dis ‘n fisieke proses. Jy moet byvoorbeeld aan ‘n vaas vat en dan besluit: Maak dit my bly of nie?
- Maak volgens kategorieë skoon. Ons maak gewoonlik eers die kombuis skoon, dan die sitkamer, dan die … Marie sê nee. Jy moet volgens kategorieë skoonmaak. As jy besluit om jul klere te takel moet jy al die klere in jul huis op een slag vat en dit begin uitsorteer. Sy leer ‘n mens ook om jou klere op ‘n spesifieke manier te vou sodat jy meer plek in jou kaste kan kry.
- Organiseer volgens ‘n plan. Sy sê jy moet eers klere takel, dan boeke en dan papiere en dan Komono (allerlei).
- Gooi weg voor jy regpak. Jy moet eers die dinge wat moet gaan, weggooi of weggee voor jy kan regpak.
BRONNE: www.konmari.com, www.drnorthrup.com
Kyk hier na Marie se video’s van hoe om klere op te vou