Van die ideale rondlêboek na ‘n lekkerleesboek vir kinders
Willie Burger
Ideale rondlêboek
Nataniël se 150 stories is ‘n ideale rondlêboek: ‘n boek wat iewers rondlê waar ’n mens gou ‘n bietjie tyd moet verwyl. Die stories daarin is kort genoeg sodat jy een tydens ‘n lang rits advertensies kan lees, of as jy vir iets in die oond moet wag. Jy kan die boek selfs in die kar se paneelkissie los vir die tye wat jy voor die skoolhek of langs die krieketveld moet wag. In die ou dae sou sommige mense dit in die kleinste kamertjie in die huis gelos het. Die versameling van 150 stories kom uit ses van Nataniël se vorige publikasies wat ‘n mens nie meer maklik in die hande kan kry nie: Oopmond, Rubber, Maria Maria, Tuesday en When I was. Dan is daar ook nog tien nuwe stories. Dit is tipiese Nataniël-stories. Terwyl jy dit lees, kan jy die woorde in sy hees stem en sy half kortasem-manier van praat in jou gedagtes hoor. Die stories is natuurlik snaaks. Sommer net die maníer van sê, is al vermaaklik. Dikwels oorheers ‘n spottende toon. Hy spot met homself of met ander, maar meestal wek dit ‘n gevoel van deernis met die mensdom. Die 150 stories sal lank rondlê voordat jy almal gelees het.
Human & Rousseau
Die klein ou tannetjie is terug!
Oudword is ‘n tema wat meestal in die letterkunde taamlik swaarwigtig hanteer word. ‘n Bewustheid van die verbygaan van alle dinge, van verganklikheid en van verlies kenmerk meestal die boeke waarin die fokus op ouer mense val.
Nie in Catharina Ingelman-Sundberg se boeke nie! Dié Sweedse skrywer is reeds vir haar historiese fiksie bekroon, maar sy het buite Swede eers bekendheid verwerf met haar skreeusnaakse roman The Little Old Lady who Broke all the Rules, wat in Brittanje een van die tien topverkopers was. Die opvolg daarvan het vroeër vanjaar verskyn: The Little Old Lady who Struck Lucky Again!. Hierdie keer verlaat die 79-jarige Martha Andersson en haar vriende die "pensioenarisliga" en Swede en geniet die blink en vinnige lewe in Las Vegas. Maar dit is asof hulle hulself net nie kan keer nie en dié bende van onwaarskynlike skurke begin om die casino’s met die mees onverwagse tegnieke te beroof. Hulle is selfs opgewasse vir die plaaslike hardebaardskurke.
London: Pan Books
Verlede wat inhaal
Rebecca Whitney is ‘n Britse skrywer wat in haar debuutroman, The Liar’s Chair, ‘n meesleurende verhaal vertel van die sielkundige gevolge van traumatiese gebeurtenisse van lank gelede. ‘n Mens kan dalk probeer om jou lewe lank herinneringe te onderdruk deur met die daaglikse sleur van die werk, huwelik, verhoudings en drank besig te bly, maar dan gebeur iets wat jou daarheen terugdwing. Whitney se roman begin met die skrikwekkende gebeurtenis van die hoofkarakter wat iemand doodry, en dan kies om van die toneel weg te ry. Dit lei tot ‘n reeks leuens en sy word uiteindelik gedwing om haar hele verlede te hanteer.
London: Mantle
Vir die jonges
Hierdie boek Chuck Norris kan deel deur nul is reeds met die Sanlamprys vir Jeuglektuur (Goud) bekroon. As jy dit lees, sal jy dadelik verstaan waarom. Van die eerste sinne af is Annelie Ferreira se prettige, raak taalgebruik meesleurend – vir jong lesers sowel as vir volwassenes. Té dikwels probeer volwassenes wat vir kinders of tieners skryf te hard om "cool" te wees en gebruik dan baie Engelse woorde. Ferreira kry dit reg om ‘n prettige, kwinkslag-gevulde Afrikaans te gebruik wat jonk klink sonder om in Engelse clichés te verval.
Die hoofkarakter, Albert Muller, is iemand met wie menige jonger leser sal identifiseer. Hy is ‘n klein graad 8-outjie wat lief is vir rekenaarspeletjies en groot drome het. Hy weet dat ‘n mens, ten einde enigiets te kan vermag, dit eers moet kan droom. Dit is waarom Steve Jobs een van sy helde is. Steve Jobs het groot gedroom. Sy ander held is Chuck Norris. Maar dit verg omtrent die vermoëns van Chuck Norris om sý drome te bewaarheid. En tóg, al dink ? mens soms jy is te onbenullig, help dit om ‘n groot kans te waag en jou droom te volg …
Tafelberg