Wanneer ‘n mens al die briewe lees, skep dit eintlik die indruk van ‘n meesleurende liefdesverhaal in die vorm van ‘n briefroman
Willie Burger
Min Afrikaanse digters het so ‘n populêre aanklank by ‘n wye verskeidenheid lesers gevind soos Ingrid Jonker. Die digter van gunstelinggedigte soos "Bitterbessie dagbreek", "Ontvlugting" en "Toemaar die donker man", het selfs nog wyer bekendheid verwerf toe Nelson Mandela haar gedig "Die kind is nie dood nie" tydens die opening van die eerste parlementsitting in 1994 voorgelees het.
Ten spyte daarvan dat daar slegs drie digbundels van Jonker verskyn het, is sy een van die mees geliefde Afrikaanse digters. Chris Cameleon se toonsettings van haar gedigte op sy album, Ek herhaal jou (2005), het 40 jaar ná haar dood opnuut belangstelling in haar werk gaande gemaak. Twee rolprente is oor haar lewe gemaak, ‘n drama is oor haar geskryf en die biografie deur Petrovna Metelerkamp was ‘n topverkoper.
Nou nog, ‘n halfeeu ná haar dood op betreklik jeugdige ouderdom, gryp Jonker se kort, tragiese lewe mense aan. Sy word dikwels met digters soos Sylvia Plath en Anne Sexton vergelyk wat ook selfdood gepleeg het.
Ten dele fassineer haar selfdood by Drieankerbaar waarskynlik so baie mense omdat sy oënskynlik haar dood deur verdrinking reeds nege jaar tevore in die gedig "Ontvlugting", "voorspel" het: "My lyk lê uitgespoel in wier en gras / op al die plekke waar ons eens was".
Een van die aspekte waaroor altyd bespiegel word, is die rol wat haar verhouding met André Brink in haar selfdood gespeel het. Sy het die see ingeloop kort nadat sy gehoor het dat Brink verloof geraak het.
Hierdie verhouding tussen twee belangrike figure in die Afrikaanse literatuur boei baie mense. En die beste insig wat ‘n mens daarin kan kry, is deur die briewe wat hulle aan mekaar geskryf het te lees. Hierdie fassinerende briefwisseling, Vlam in die sneeu, het pas verskyn.
Slegs enkele maande voordat hy vroeg vanjaar oorlede is, het André Brink hul korrespondensie aan die uitgewer Umuzi gegee. Hy het van die heel eerste brief wat hy aan Jonker geskryf het, enkele dae nadat hulle mekaar die eerste keer ontmoet en halsoorkop verlief geraak het, al sy briewe aan haar op deurslagpapier geskryf en dus kopieë behou. Hy het ook al haar briewe wat sy tydens die ongeveer twee jaar wat hul verhouding geduur het, gehou. Hierdie versameling briewe word deur Umuzi (en Penguin Random House) in Afrikaans en Engels uitgegee. Ek het die voorreg gehad om ‘n inleiding vir die boek te skryf en om byna voyeuragtige insae in hierdie twee besondere mense se verhouding te kry.
Dit is fassinerende leestof. Aan die een kant is dit baie insiggewend ten opsigte van die era. Hulle het in 1963 ontmoet en Jonker is in 1965 oorlede. Dit is ‘n tydperk waarin die destydse regering al hoe hardhandiger opgetree het om enige denke en idees te onderdruk wat nie met hul baie nou "Christelik-nasionale" perspektief ooreengestem het nie. Dit was ‘n tyd van toenemende anti-apartheidsprotes, van die Rivonia-verhore en die stasiebom, en die regering het drakoniese sensuurmaatreëls ingevoer. Brink en Jonker is juis deur hierdie stryd teen sensuur bymekaargebring. Die briewe bied baie insigte in die literêre, sosiale en politieke landskap van dié tyd.
Wanneer ‘n mens al die briewe lees, skep dit eintlik die indruk van ‘n meesleurende liefdesverhaal in die vorm van ‘n briefroman. ‘n Mens het slegs toegang tot die briewe en nie tot die kort gesteelde tydjies wat hulle wel bymekaar was nie. Oor hierdie gesteelde naweke kan ‘n mens net afleidings maak uit die briewe waarin hulle mekaar bedank vir die goeie tye of om verskoning vra vir die woordewisselings.
Die deurslaggewende impak van Jonker op Brink se lewe word duidelik. Ná hy haar ontmoet het, sou sy lewe nooit weer dieselfde wees nie. Sy het hom losgeskud van sy burgerlike bestaan sodat hy vreesloos op alle terreine na vryheid kon streef. En haar beeld keer herhaaldelik in die vrouekarakters in sy romans terug.
Natuurlik gee die briewe ook byna té veel insig in hul persoonlike sake en hoewel hierdie insae in hul intiemste saamwees en drome soms byna te erg is om te verduur, laat dit die leser ook besef dat die groot skrywer en digter ook gewone mense was.
Die briewe bied uiteindelik nie alleen ’n blik op ’n fase in hierdie twee besondere mense se lewens nie, maar die korrespondensie word ’n verwoording van die hele lewe: van verlief raak en die ervaring van die heerlike, byna mistieke bevryding wat in intimiteit met ’n ander gevind kan word, van gedeelde idealisme en eerlike meningswisselings, tot botsings wat diep wond en ligsinnige pret. Die eeue oue temas van verbode liefde, verraad en lojaliteit, van samelewingsdruk op individue en roekelose opstand teen burgerlikheid, en die onverbiddelikheid van die dood, word in hierdie briewe deur twee woordtowenaars oorspronklik bedink en helder verwoord.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.