Willie Burger kyk hoe storielyne wiskundig bepaal kan word
Willie Burger
Wiskunde en letterkunde word dikwels as uiterste teenoorgesteldes van mekaar beskou. Die wêreld van gedigte en stories is vol emosies en menslikheid, so word dikwels geredeneer, terwyl die wêreld van wiskunde en statistiek, onmenslik en koud is.
Wat gebeur wanneer wiskunde en statistiek ingespan word om iets meer van letterkunde te verstaan? Sommige mense sal dadelik negatief op hierdie moontlikheid reageer, maar eintlik kan statistici en wiskundiges ons nogal baie oor letterkunde vertel. ‘n Groep wiskundiges en statistici van die universiteite van Vermont en Adelaide het in Julie ‘n artikel oor hul ondersoek na die basiese vorms van stories gepubliseer (http://arxiv.org/ pdf/1606.07772v2.pdf).
Die debat oor hoeveel basiese storielyne daar eintlik bestaan, woed al baie lank. Die idee hieragter is dat daar eintlik net ‘n beperkte aantal maniere is waarop stories vertel kan word. Al bestaan daar miljoene stories in die wêreld en al word daar elke dag nog miljoene nuwe stories vertel, is daar eintlik net ‘n paar basiese patrone waarvolgens al hierdie stories gevorm kan word. Soos wat taalkundiges aandui dat ons met behulp van ‘n beperkte aantal taalreëls ‘n onbeperkte hoeveelheid verskillende sinne kan maak, is daar ook vertelkundiges wat probeer uitwerk wat die basiese “storiereëls” is waarvolgens ‘n onbeperkte aantal stories vertel kan word.
Die algemeenste storiereël sou kon wees dat iets met iemand moet gebeur. ‘n Mens kan dan uit alle moontlike gebeurtenisse kies en uit alle moontlike karakters met wie dit gebeur en dit kombineer om ‘n storie te maak. Interessanter is egter die manier waarop hierdie gebeurtenisse uiteindelik aangebied word. ‘n Mens kan die gebeurtenisse op só ‘n manier beskryf dat dit ‘n ongelukkige einde of ‘n gelukkige afloop het; dat dit tragies of komies verloop. Elk van hierdie eindes verg ‘n sekere storievertelstruktuur of plot.
Daar was al navorsers wat beweer het daar is slegs drie basiese plots (goeie einde, slegte einde, tragedie). Ander beweer dat daar sewe is. (Enkele jare gelede het ek ‘n lesing vir studente in rolprentdraaiboekskryf aangebied en hulle was vas oortuig, na aanleiding van ‘n handboek wat vir hulle voorgeskryf is, dat daar sewe basiese plots bestaan.) Nóg ander het meer komplekse plotmodelle voorgestel waarvolgens daar selfs so veel soos 32 basiese plots bestaan. Die wiskundiges en statistici het die hipotese dat basiese plotstrukture alle vertellings onderlê, getoets deur ‘n geweldige groot databasis van meer as 1 700 bekende stories wat elektronies beskikbaar is, met behulp van wiskundige modelle te ondersoek. Hulle het gekyk na die “emosionele boog” wat in die verhale gevolg word.
Die boog word op ‘n grafiek aangedui waarvolgens die vertikale as onderskei tussen intense ongeluk, siekte en slegte omstandighede heel onder en voorspoed, gesondheid en geluk heel bo. Die horisontale as dui die tydsverloop van die vertelling van begin tot einde aan. Die ondersoekers het ses plotstrukture gevind deur bloot na die aantal woorde wat met positiewe emosies en met negatiewe emosies geassosieer word per 10 000 woorde te tel en dan deur die hele teks te volg vir elke 10 000 woorde.
Die ses storielyne is: “Niets tot iets” (“Rags to riches”): Die verhaal het ‘n stygende emosionele lyn. Aanvanklik is die situasie benard, maar alles eindig goed. “Iets tot niets” (“Riches to rags” of tragedie): Die verhaal volg die lotgevalle van iemand wat voorheen voorspoed en geluk gesmaak het tot uiteindelike ongeluk. “Man-in-die-gat-vertelling”: Die sogenaamde “man in the hole plot” is deur Kurt Vonnegut beskryf. Die verhaal begin met voorspoed, dan volg ‘n ommekeer in die lotgevalle wat tot intense ongeluk en lyding lei, maar uiteindelik eindig alles voorspoedig. “Ikarus”-plot: Dit is die omgekeerde van bogenoemde – begin op ‘n emosionele laagtepunt, styg tot ‘n hoogtepunt, maar eindig weer onder. Aspoestertjie-plot: Die verhaal begin op ‘n laagtepunt, styg tot ‘n hoogtepunt van voorspoed, val weer tot ‘n nuwe laagtepunt, totdat dit weer tot ‘n hoogtepunt styg. Oedipus-plot: Die omgekeerde van die Aspoestertjie-plot: begin op ‘n hoogtepunt, val tot onder, styg weer tot ‘n hoogtepunt voordat dit weer op ‘n laagtepunt eindig. Hulle kon ook vasstel – aan die hand van die aantal kere wat hierdie stories van die internet afgelaai is – watter storiemodelle die gewildste is. Hul bevinding is dat die Aspoestertjiemodel en die omgekeerde daarvan (Oedipus-model) sowel as die man-in-die-gat-plots die gewildste is (die man-in-die-gat-plot word dikwels twee kere in ‘n enkele storie herhaal).