Lees is toe al die tyd regtig goed vir jou (sê sielkundiges)
Willie Burger
Die meeste mense wat hierdie boekeblad lees, glo waarskynlik dat dit vir ‘n mens goed is om te lees. Daar is altyd baie redes wat aangevoer word oor waarom lees voordelig is: jou algemene kennis brei byvoorbeeld uit, jou woordeskat groei, jou taalvermoë verbeter, ensovoorts.
Daarom word kinders aangemoedig om te lees en word boeke op skool voorgeskryf. Hoewel lesers meestal ervaar dat dit vir hulle aangenaam is om boeke te lees, is dit nie altyd maklik om te beskryf wat presies die voordele van lees is nie. Twee sielkundiges van New York, Kidd en Castano, het ‘n uitgebreide studie onderneem en bevind dat lesers wat aan literêre fiksie blootgestel word, se vermoë om empatie met ander mense te hê, merkbaar verbeter. Sodoende bevestig hulle “wetenskaplik” iets wat lesers al lank beweer. ‘n Duisend mense het aan die studie deelgeneem. Sommige deelnemers het nie-fiksie gekry om te lees. ‘n Tweede groep is literêre fiksie gegee en nog ‘n groep het populêre fiksie (genre-fiksie) gelees. Daarna is almal aan vier verskillende toetse onderwerp wat mense se empatiese vermoëns bepaal.
Die toetse wat gebruik is, hou verband met mense se vermoë om hulle in ander se situasies in te dink. Die meeste van ons ontwikkel min of meer op die ouderdom van drie of vier jaar die vermoë om onsself in ‘n ander se plek te kan indink. Hierdie vermoë word in die sielkunde en filosofie “Theory of Mind” genoem. “Theory of Mind” is die talent wat ‘nmens ontwikkel om nie net jou eie idees, begeertes, wense, motiverings en emosies te kan ken nie, maar ook om te kan verstaan dat ander mense se idees, begeertes, wense, motiverings en emosies van jou eie kan verskil. Kortom, dit beteken dat jy kan insien dat ‘n ander persoon anders as jy kan dink en voel, en dat jy jou ook kan indink wat ‘n ander se idees en gevoelens mag wees. Om ander mense se emosies en idees goed te kan aanvoel, is natuurlik ‘n vaardigheid wat baie voordele inhou. Dit help ‘nmens om nie slegs ander mense beter te begryp nie, maar om uiteindelik veel beter in ‘nsosiale situasie, in die werksplek en in onderhandelings te funksioneer.
Kidd en Castano het bevind dat diegene wat nie-fiksie en populêre fiksie gelees het, veel swakker presteer het in die toetse as die persone wat literêre fiksie gelees het. Volgens hulle het dit daarmee te doen dat populêre fiksie daarop ingestel is om die lesers te vermaak. In hierdie tekste word die leser na ‘n fiksiewêreld en ‘n volledige wêreld en verstaanbare karakters en handelinge meegevoer sodat die leser uiteindelik ook ‘n baie spesifieke, eenduidige betekenis vind. Literêre fiksie stel egter ander eise aan die leser en dikwels moet die leser as ’t ware “saam skryf” aan die teks. Daar word van die leser verwag om sy/haar verbeelding in te span en self betekenis aan die roman toe te ken, eerder as wat ‘nenkele betekenis (en “boodskap”) aan die leser gegee word.
Blykbaar is dit juis hierdie eis om kreatief aan die leesproses mee te doen, wat lesers se empatiese vermoëns laat verbeter. Natuurlik kan ‘n mens altyd baie vrae oor die aard van sulke studies en toetse stel en uiteraard is dit nie die rede waarom die meeste van ons graag boeke lees nie, maar dit is tog interessant dat sielkundiges oor hierdie aspek van lees navorsing doen. En as iemand nou weer vir jou vra waarom jy altyd sit en lees, kan jy hulle na hierdie studie verwys.
Besoek sciencemag vir meer info