Alita Steenkamp gee in ons 21 Maart-uitgawe 15 maklike maniere om die aarde te red. Lees hier meer oor herwinning
Alita Steenkamp
Hoeveel van jou vullis beland uiteindelik op ’n vullishoop? Die gemiddelde Amerikaner se rommel wat hy weggooi is ná ses weke gelyk aan sy eie liggaamsgewig.
Hier by ons gaan dit beslis nie anders nie, veel eerder erger. Het jy al vir een oomblik gedink waarheen die vullis gaan nadat jou vullishouer leeggemaak is?
Daar is nie ’n wonderplek waar dit beland en verdwyn sonder dat dit enige skade aanrig nie. Jou vullis beland of op ’n vullisterrein waar dinge soos plastieksakke en glasbottels duisend jaar gaan neem om te verdwyn, of dit kan dalk verbrand word en só sorg vir enorme lugbesoedeling, of dit kan dalk selfs iewers in ’n seeskilpad se maag beland. Het jy al gesien hoe lyk dit nadat vloedwater deur ’n plek gegaan het? Elke boom in die onmiddellike omgewing is in plastieksakke en bottels gedrapeer. Die aantal rommel wat in ons land se riviere is, moet rooi ligte laat flikker.
Die tyd het aangebreek dat ons ons vullis minder móét maak, ophou rommel strooi en aktief begin herwin.
Begin vandag nog om jou vullis te skei in dinge wat herwin kan word, en nie herwin kan word nie. Daar is min van laasgenoemde. Papier in alle vorms (koerante, boksies, tydskrifte, afvalpapier, rommelpos, selfs toiletrolletjies), harde plastiek, koeldrank- en waterplastiekbottels, koeldrank- en bieraluminiumblikkies, hoort nie in ’n vullisblik nie. Gebruik jou kombuisafval vir jou komposhoop of begin ’n wurmplaas. Wat gemaak met nie-herwinbare items?
By sommige groot supermarkte is daar wel herwinningspunte vir artikels soos gloeilampe, batterye en so meer. Op talle webwerwe sal jy wel lyste kan kry met artikels wat liefs nie by die herwinningsmateriaal geplaas moet word nie. Dink maar hier aan ’n vetterige pizzaboks. As ons nie almal saamspan en ons heel beste doen om ons vullisdromme so leeg as moontlik te kry nie, gaan daar van ons mooi aarde binnekort niks oorbly nie.
Het jy geweet?
• Elke ton papier wat herwin word, spaar die lewe van 17 bome wat ongeveer 12 meter hoog is.
• Sowat 50% van die rommel wat op vullisterreine land, is papier wat alles herwin kon word.
• Sowat 90% van alle glas wat herwin word, kan gebruik word om nuwe glasartikels soos bottels en glashouers te maak.
• Elke glasbottel wat herwin word, spaar genoeg krag om ’n 100 W- gloeilamp vir vier uur te laat brand.
• Wanneer jy ’n 2 l- plastiekmelkbottel herwin, spaar jy genoeg energie om ’n 100 W-gloeilamp vir elf uur te laat brand.
Een koeldrankblikkie wat jy herwin, spaar genoeg krag om ’n TV vir drie uur te laat werk.
Bron: http://eartheasy.com/live_recycling.htm
SOURCES
Verskaf