Maak ’n dubbellaagkoek vir ’n variasie op dié gewilde lekkerny
Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS en SUZANNE CROZIER
1 groot koek
Bestanddele
Koek
200 g botter
250 ml (1 k) strooisuiker
4 ekstragroot eiers
560 ml (2¼ k) koekmeel
15 ml (3 t) bakpoeier
knypie sout
187 ml (¾ k) volroommelk
Sjokoladesous
375 ml (1½ k) water
80 g botter
750 ml (3 k) versiersuiker
60 ml (4 e) kakao
5 ml (1 t) vanieljegeursel
625 ml (2½ k) klapper
Roomkaasvulsel
250 g (1 bakkie) roomkaas
250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
200 g (1 plak) donkersjokolade, gesmelt
Metode
Stel oond op 180 °C.
- Koek Room botter en suiker met elektriese klitser tot lig en donserig.
- Klits eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging.
- Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam.
- Roer koekmeel en melk beurtelings by bottermengsel tot gladde deeg.
- Voer twee koekpanne met 22 cmdeursnee met bakpapier uit en spuit met kossproei.
- Verdeel beslag tussen koekpanne en maak deeg gelyk bo-op.
- Bak vir 25 minute of tot toetspen skoon uitkom.
- Laat koeke bietjie in koekpanne afkoel en keer op afkoelrakkie uit om heeltemal af te koel.
- Sny bokante van koeklae met broodmes gelyk.
- Sjokoladesous Verhit water, botter, versiersuiker en kakao saam in kastrol oor matige hitte en roer gedurig tot al die bestanddele opgelos en sjokoladesous glad is.
- Draai stoofplaat se hitte hoër. Prut sjokoladesous vir drie minute vandat dit begin borrels maak. Verwyder van stoofplaat om effens af te koel. Roer vanieljegeursel by.
- Gooi klapper in vlak bak wat groot genoeg is dat koek daarin kan pas.
- Gooi sjokoladesous in bak bietjie groter as koek, maar wat hoë rand het.
- Doop een koeklaag op ’n slag in sjokoladesous en bedek hele koek met sous.
- Plaas gedoopte koeklaag in klapper en sprinkel van klapper langs kante en booor koek. Plaas op koekstander.
- Doen dieselfde met oorblywende koeklaag. Hou eenkant terwyl roomkaasvulsel berei word.
- Roomkaasvulsel Roer roomkaas tot glad terwyl versiersuiker bygevoeg word.
- Smelt sjokolade vir paar sekondes in mikrogolf op 50% krag. Roer tot sjokolade glad en sonder klonte is.
- Roer bietjie van roomkaas by gesmelte sjokolade. Verhit indien nodig.
- Roer sjokolademengsel by roomkaas en roer tot glad.
- Skep helfte van roomkaasvulsel op een koeklaag.
- Plaas ander koeklaag bo-op en skep oorblywende roomkaas oor.
- Sit in skywe voor.