Soek jy die ideale gereg saam met jou glasie wyn? Ons gee jou hierdie week resepte vir Drostdy-Hof se beeskortribpotjie sowel as Andy Fenner se gerookte varkskenkel en bosbessie-risotto saam met Zonnebloem Pinotage.
Beeskortribpotjie met Drostdy-Hof Winemaker’s Collection Merlot
Lewer 6-8 porsies
Bestanddele
60 ml olyfolie
2 uie, gekap
4 wortels, gekap en in blokkies gesny
3 selderystingels, in dun skyfies gesny
1 knoffelhuisie, fyn gedruk
125 ml (½ k) meelblom
5 ml (1 t) koljander
5 ml (1 t) kaneel
5 ml (1 t) sout
2 kg beeskortrib
Kruiesakkie: 6 selderystingels, 2 tiemiestingels en 2 lourierblare met kombuistou vasgebind
500 ml (2 k) beesaftreksel
250 ml (1 k) Drostdy-Hof Winemaker’s Collection Merlot
300 g pekeluie, geskil
4 jenewerbessies
4 steranyssade
4 stukkies kassia
500 g patat, geskil en in blokkies gesny
500 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
sout en varsgemaalde swartpeper
Metode
1 Berei die vuur soos gewoonlik voor en sorg vir genoeg kole om potjie gaar te maak.
2 Verhit olie in middelslag-gietysterpotjie en braai uie, wortels, seldery en knoffel saggies tot goudbruin. Verwyder uit potjie en hou eenkant.
3 Voeg eelblom, koljander, kaneel en sout saam in mengbak. Vryf stukke kortrib met gegeurde meelblom. Skud alle oortollige meelblom af. Braai stukkies vleis bietjies-bietjies in dieselfde potjie tot goudbruin.
4 Plaas groente in potjie terug. Voeg kruiesakkie, beesaftreksel, wyn, jenewerbessies, steranyssaad en kassia by en geur na smaak. Bring tot kookpunt, verminder hitte en laat anderhalfuur lank prut tot vleis van been afval. Voeg patat en botterskorsie by en kook vir nog 30 minute tot sag.
5 Bedien warm met romerige polenta of rys en geniet dit met die Drostdy-Hof Winemaker’s Collection Merlot.