’n Rolkoek is maklik om te bak. Hierdie wortelweergawe sal verorber word voor jy jou oë kan uitvee
Wortelrolkoek
1 rolkoek
BESTANDDELE
3 eiers
160 ml (135 g) suiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
250 ml (105 g) koekmeel
5 ml (1 t) bakpoeier
10 ml (2 t) gemengde speserye
2,5 ml (¼ t) sout
375 ml (300 g) wortels, fyngerasper
VULSEL
½ houer (125 g) volroomkaas
60 ml (55 g) botter
375 ml (200 g) versiersuiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
strooisuiker om oor te strooi
METODE
Voorverhit oond tot 180 °C en spuit rolkoekpan van 25 cm x 38 cm met kleefwerende sproei en voer dit met waspapier uit.
1 Klits eiers tot lig en donsig en voeg suiker en vanieljegeursel by. Klits tot dik.
2 Sif meel, bakpoeier, speserye en sout. Vou by eiermengsel in. Meng wortels by.
3 Skep beslag in rolkoekpan en maak gelyk bo-op.
4 Bak vir 13 tot 15 minute tot goudbruin en gaar.
5 Strooi vadoek met strooisuiker en keer koek op vadoek uit. Rol koek in lengte op. Laat koek afkoel.
6 Vulsel Klop roomkaas en botter saam tot glad. Klop versiersuiker en vanieljegeursel by.
7 Rol rolkoek af, smeer roomkaasvulsel bo-op en rol weer op.
Mareli Visser is die wenner van Koekedoor 1,’n realiteitsprogram op KykNET. Sy is ook die skrywer van “UITGERYS” ‘n Afrikaanse resepteboek wat spesialiseer in brood. Sy is die aanbieder van haar eie bakprogram op VIA TV – Die Koektannie. En daarby saam sorg sy ook elke week vir heerlike gebak in Vrouekeur.