Elzette Maarschalk hou slegs van kosmaak as sy in ’n kreatiewe bui is. “Indien nie, wil ek geselskap hê as ek kosmaak. Ek hou nie daarvan om my alleen in die kombuis af te sloof nie!” skerts sy.
4 porsies
50 g (½ pakkie) dennepitte of amandelvlokkies
genoeg olyfolie of botter
10 ml (2 t) vars knoffel, gekap
5 ml (1 t) vars gemmer, fyngerasper
vars rooi brandrissies na smaak
4 hoenderborsies
sout en peper na smaak
4 groot mango’s, in groot repe gesny
45 ml (3 e) Van der Hum-likeur
vars roketblare
- Verhit braaipan en rooster dennepitte of amandelvlokkies sonder enige olyfolie of botter. Skud braaipan gereeld sodat dennepitte of amandelvlokkies egalig gerooster word. Wanneer klaar gerooster, skep uit en hou eenkant.
- Voeg genoeg olyfolie in braaipan en soteer knoffel, gemmer en brandrissies tot gaar.
- Slaan hoenderborsies met vleishamer sag en plat. Voeg saam met knoffel in braaipan en braai tot gaar.
- Skep hoenderbestanddele uit en sprinkel sout en peper oor. Voeg dennepitte of amandelvlokkies hierby en hou eenkant.
- Braai mangorepe in dieselfde braaipan tot warm en dit amper uitmekaarval. Skep bestanddele terug in braaipan en gooi Van der Hum-likeur bo-oor. Laat prut vir 2 minute tot al die bestanddele deurwarm is. Draai stoofplaat se hitte af.
- Plaas klomp vars roketblare bo-op. Sit deksel op en laat staan braaipan op warm afgeskakelde stoofplaat vir 1 minuut vir roketblare om sag te word.
- Sit dadelik net so of met basmatirys of ’n roketslaai voor.