Spek en maalvleis is die perfekte pasmaats in dié pasta
BESTANDDELE
• 4 tot 6 porsies
500 g (1 pak) groot skulppasta
bietjie olie
1 ui, gekap
2,5 ml (½ t) droë basiliekruid
125 g (½ pakkie) spek, gekap
1 rooi brandrissie, ontpit en fyngekap
600 g beesmaalvleis
400 g (1 bottel) gekoopte tamatie-en-basiliekruid-pastasous (Ina Paarman)
30 ml (2 e) blatjang
1 ml sout
swartpeper na smaak
12 klein tamaties, gehalveer
250 ml (1 k) mozzarellakaas, gerasper
METODE
1 Kook pasta tot al dente in borrelende water waarby 5 ml (1 t) sout en 10 ml (2 t) olie gevoeg is.
2 Dreineer en spoel af. Hou eenkant.
3 Verhit olie en soteer ui en basiliekruid tot ui sag is.
4 Voeg spek by en soteer tot gaar.
5 Voeg brandrissie en maalvleis by. Roer tot maalvleis los van mekaar is en bruin raak.
6 Roer pastasous, blatjang, sout en peper by. Kook oor matige hitte vir 20 minute of tot sous effens afkook en verdik.
7 Roer gehalveerde klein tamaties by.
8 Vul pastaskulpe met vulsel en pak in gesmeerde oondbak.
9 Sprinkel mozzarella bo-oor en bak vir 10 minute tot kaas gesmelt is en warm is.
10 Sit dadelik voor.