Mathys Roets maak musiek wat jou hart roer en hy verkies enige tyd ’n kitaar bo die kombuis. Hy deel sy resep vir ‘n pizza met ons.
Hy bieg dat hy nie juis ’n ywerige kok is nie. “Ek kan sekere goed goed doen en die res los ek maar vir die kenners.” Hy glo die belangrikste deel van kosmaak is die gehalte van die bestanddele en dan die hitte van die stoof, oond of braai. Self geniet hy goeie vleis, Italiaanse disse en boerekos. Lekker gekookte boerekos vat hom altyd terug na sy kinderdae en die kok wat hy die meeste bewonder, is sy ma.
KOSFILOSOFIE “Eet net waarvan jy hou, moenie tyd op slegte kos mors nie.”
Mathys se pizza
4 groot pizza’s
BROODDEEG
1 kg koekmeel
10 g (1 pakkie) droë kitsgis
1 ml sout
bietjie olie
375 ml (1½ k) louwarm water
BOLAAG
410 g (1 blik) Italiaanse tamaties, gekap
750 ml (3 k) mozzarellakaas, gerasper
500 ml (2 k) ham of salami, fyngekap
250 ml (1 k) calamata-olywe, gehalveer
250 ml (1 k) klein tamaties, gehalveer
knypie droë origanum
Stel oond op 180 °C.
- Brooddeeg Plaas koekmeel, droë kitsgis en sout vir brooddeeg in groot mengbak. Meng goed.
- Roer olie by louwarm water. Voeg genoeg louwarm water by om sagte, elastiese brooddeeg te vorm.
- Knie deeg deeglik. Plaas deeg in mengbak wat met bietjie olie gesmeer is. Bedek met kleefplastiek en plaas op warm plek vir ongeveer 1 uur tot dubbel in volume.
- Rol deeg plat op meelbestrooide oppervlak uit.
- Sny jou grootte pizza uit soos verkies.
- Plaas deegsirkels op gesmeerde bakplaat.
- Bolaag Skep ongeveer 15 ml (1 e) Italiaanse tamaties op deeg.
- Sprinkel genoeg mozzarellakaas op, gevolg deur ham of salami, olywe, tamaties en origanum.
- Bak vir 8 tot 10 minute in gewone oond of 2 tot 3 minute in pizza-oond. As temperatuur reg is en pizza-oond werk reg, is pizza regtig gou klaar.