Die glam guru is nie so gek na kos maak nie, maar sy gerookte salmpasta laat gaste oe en aa.
“Ek kan gaste onthaal dat die biesies bewe en drankies skink dat die oseane skuim, maar vir die kospotte het ek nie ’n hartklop nie,” vertel hy. Hannon sê hy het ’n lewensmaat met ’n natuurlike kooktalent, ’n sussie wat ’n poedingkoningin is en ’n pa wie se tweede godsdiens braaivleis is. Daarom kan hy hom meestal uit die kokery wurm en aandag aan sy spesialiteite gee – gasheer speel en drankies meng. Self geniet hy vars slaaie, en koue hoender of vis is sy stapelkos. “Ek geniet dit om oor naweke met braaivleis (met al die vet aan) en lekker droë witwyn te laat waai!”
Hannon se gerookte salmpastadekadensie
4 porsies
500 g (1 pak) spaghetti
bietjie olie
5 ml (1 t) sout
SALMSOUS
250 g (1 bakkie) mascarponekaas
60 ml (¼ k) soet sjerrie
200 g salm of forel, in repies gesny
2 knypies droë origanum
2 knypies droë pietersielie
2 knypies basiliekruid
125 ml (½ k) parmesaankaas, fyngerasper
knypie sout
knypie swartpeper
60 ml (¼ k) melk (opsioneel)
60 ml (4 e) vars kaviaar (opsioneel)
vars dille of vinkelblare
12 korrels ingelegde kappertjiesaad
2 suurlemoene, in wiggies gesny
1 Kook pasta in borrelende water waarby bietjie sout en olie gevoeg is tot al dente, ongeveer 10 minute.
2 Dreineer en roer ekstra olie deur sodat pasta nie aan mekaar kleef nie. Bedek en hou eenkant.
3 Salmsous Skep mascarponekaas in geskikte kastrol en verhit oor matige hitte tot gesmelt.
4 Roer sjerrie by.
5 Voeg salm of forel by en roer versigtig totdat sous glad is. Wees versigtig dat salm of forel nie hul vorm verloor nie.
6 Meng origanum, pietersielie, basiliekruid en parmesaankaas by.
7 Voeg sout en peper na smaak by. As sous te dik is, kan melk bygevoeg word om sous effens te verdun.
8 Skep pasta in geskikte opdienbord. Skep salmsous oor en meng met die pasta.
9 Skep kaviaar (opsioneel) op en versprei liggies.
10 Garneer met vars dille of vinkel, kappertjiesaad en suurlemoen.
11 Rasper ekstra parmesaankaas bo-oor indien verkies.