Wat is nou lekkerder as tuisgebakte Paasbolletjies met plaasbotter vir ontbyt?
12 bolletjies
BESTANDDELE
1 pakkie (10 g) kitsgis
950 ml (500 g) koekmeel
5 ml (1 t) sout
60 ml (50 g) suiker
2,5 ml (½ t) gemengde speserye
5 ml (1 t) fyn kaneel
2,5 ml (½ t) neutmuskaat
60 ml (60 g) botter
160 ml (2/3 k) melk
1 eier, geklop
125 ml (½ k) louwarm water
150 g vrugtekoekmengsel
KRUISAFRONDING
100 ml (50 g) koekmeel
1 ml sout
25 ml (5 t) olie
60 ml (¼ k) melk
1 eier, geklits
GLASUURSEL
60 ml (¼ k) melk
60 ml (¼ k) suiker
60 ml (¼ k) water
METODE
1 Meng gis, meel, sout, suiker en speserye.
2 Verhit botter en melk tot botter gesmelt is. Laat tot louwarm afkoel.
3 Gooi melkmengsel en eier by droë bestanddele. Voeg water by en roer totdat deeg vorm. Knie vir verdere 10 minute totdat deeg glad en elasties is.
4 Laat rys vir 30 minute of tot dubbelvolume.
5 Voorverhit oond tot 200 °C en berei bakplaat voor deur met botter te smeer.
6 Voeg vrugte by en knie in.
7 Verdeel deeg in 12 gelyke dele (90 g) en vorm bolletjies deur deeg aan onderkant vas te knyp en dan op meelbestrooide oppervlak te rol totdat naat egalig is.
8 Pak op bakplaat, bedek en laat rys vir 30 minute of tot dubbelvolume.
9 Kruisafronding Berei kruisafronding voor terwyl bolletjies rys. Meng meel, sout, olie, melk en eier met draadklitser tot gladde deeg. Skep deeg in plastieksak en spuit kruis bo-op.
10 Bak vir 20 minute of tot goudbruin en gaar.
11 Glasuursel Berei glasuursel voor terwyl bolletjies bak. Verhit melk, suiker en water tot kookpunt en kook vir vier minute. Verwyder van hitte en verf bolletjies sodra dit uit oond kom.
Mareli Visser is die wenner van Koekedoor 1,’n realiteitsprogram op KykNET. Sy is ook die skrywer van “UITGERYS” ‘n Afrikaanse resepteboek wat spesialiseer in brood. Sy is die aanbieder van haar eie bakprogram op VIA TV – Die Koektannie. En daarby saam sorg sy ook elke week vir heerlike gebak in Vrouekeur.