Hollandaise-sous, oftewel ’n warm bottersous, kan as die koning van souse beskryf word. Ons wys jou stap vir stap hoe om dié maklike sous te maak
Loer hier na die video. Die volledige resep is onder die video
Bestanddele
3 eiergele
15 ml (1 e) vars suurlemoensap
180 ml (2/3 k) gesmelte botter
knypie sout en peper
Metode
- Skep wit gedeelte van gesmelte botter af. Dit is melkvastestowwe wat jy nie nodig het nie. Slegs die vet moet gebruik word.
- Klits eiers en helfte van suurlemoensap bo-oor amper kokende water tot effe dikker. Draai plaat vir kookwater af.
- Terwyl jy aanhou klits, voeg teelepel gesmelte botter by. Hou so aan tot botter op en sous lekker dik is.
- Geur met sout en peper. Proe, en as jy sous nog suurder wil maak, voeg ander helfte van die suurlemoensap by.
Wenke
- Jy kan ook jou botter in blokkies sny en by die warm mengsel klits. Klits blokkie botter by tot gesmelt voor jy volgende blokkie bygooi.
- As jy sien jou sous begin skif, haal dadelik van hitte af en klits bietjie koue water by.
- Wees versigtig vir te veel hitte, want eiers is baie sensitief vir hitte. Jou sous moet konstant die temperatuur van baba-badwater wees. Dis heeltyd ’n speletjie van op en af van hitte.
- As jou sous geskif het, begin met ’n nuwe eiergeel en bietjie suurlemoensap en klits van die geskifte sous lepel vir lepel by.
- As die sous te dik is, roer bietjie water by.