Hoewel fyn gemmer nie onbekend is nie, is vars gemmer ‘n ander storie. Dit word per kilogram aangekoop en is in die groente-afdeling van die supermark beskikbaar. Om dit in kos te gebruik moet jy dit eers skil: sny die skil met ‘n mes af, of gebruik ‘n groenteskiller. Daarna kan jy dit rasper. Wanneer jy dit gebruik om ‘n stroop of sous te geur, soos met hierdie drankie, hoef jy dit nie te skil nie.
Deur Wilna Myburgh
Indien jy ‘n verskoning benodig om hierdie te maak, kan jy jou altyd na die gesondheidsvoordele van gemmer wend. Daar word gesê dat vars gemmer teen inflammasie, pyn en koors veg. ‘n Tee gemaak van gemmer is ook ‘n uiters goeie manier om ‘n verkoue te keer.
Bestanddele
Gemmer- en rooibosdrankie
125 ml gemmerstroop *
500 ml rooibostee
250 ml lemoensap
1 suurlemoen, in dun skyfies
handvol vars kruisementblare
Metode
- Meng die gemmerstroop, rooibostee en lemoensap.
- Voeg meer gemmerstroop na smaak by.
- Bedien met baie ys, saam met ‘n paar suurlemoenskyfies en vars kruisementblare.
Om gemmerstroop te maak:
- Meng ‘n halfkoppie suiker, ‘n koppie water en 10 cm vars gemmerstingel, in ringe opgesny.
- Smelt die suiker en bring dan tot kookpunt. Kook vir 5 minute.
WENK Om die as ‘n skemerkelkie voor te sit, kan jy ‘n sopie brandewyn of jenewer byvoeg.