Hierdie tuna-en-murgpampoentjie-gebak is ideaal vir ’n weeksaand!
4 porsies
Bestanddele
12 murgpampoentjies
bietjie olie
sout en swartpeper
1 ui, gekap
5 ml (1 t) vars knoffel, gekap
5 ml (1 t) droë pietersielie
30 ml (2 e) botter
30 ml (2 e) koekmeel
560 ml (2¼ k) warm volroommelk
2 eiers
250 ml (1 k) vars broodkrummels
375 ml (1½ k) mozzarellakaas, gerasper
340 g (2 x 170 g-blikke) tuna, gedreineer
LEES OOK: Tuna-en-tjips-tert
Metode
Stel oond op 180 °C.
- Sny punte van murgpampoentjies af. Sny murgpampoentjie met groenteskiller in lang stroke.
- Verhit bietjie olie en braai murgpampoentjierepe in sarsies in braaipan tot gaar.
- Sprinkel met sout en peper terwyl jy braai. Skep uit soos wat dit gaar word en hou eenkant.
- Verhit nog olie indien nodig en soteer ui, knoffel en pietersielie tot ui sag is.
- Maak witsous deur botter in kastrol te smelt en meel daarby te roer.
- Roer warm melk bietjie vir bietjie by sodat geen klonte vorm nie. Roer tot witsous verdik en borrels begin maak. Verwyder van stoofplaat.
- Geur na smaak met sout en peper. Laat witsous bietjie afkoel.
- Klits eiers en roer vinnig by witsous.
- Smeer of spuit vierkantige oondbak van ongeveer 18 cm x 18 cm met kossproei.
- Pak ’n derde van murgpampoentjies onder in oondbak. Sprinkel ’n derde van broodkrummels bo-oor, asook ’n derde van kaas. Vlok tuna en skep ’n derde bo-op.
- Skep ’n derde van witsous bo-oor. Herhaal proses nog twee keer tot jy weer met witsouslaag eindig.
- Bak vir 25 minute of tot goudbruin bo-op.
- Sit louwarm voor.