Bak ‘n brood
• 1 brood
Bestanddele
500 g (4 k) broodmeel
5 ml (1 t) sout
10 g (1 pakkie) kitsgis
375 ml (1 ½ k) louwarm water
30 ml (2 e) strooisuiker
45 ml (3 e) avokado- of olyfolie
bietjie olie
250 g (1 pakkie) spek
5 ml (1 t) droë gemengde kruie
Stel oond op 180 °C.
1 Meng broodmeel, sout en kitsgis saam.
2 Roer louwarmwater, strooisuiker en olie bymekaar. Roer by meelmengsel tot deeg. Dit mag nodig wees om dalk nog bietjie witbroodmeel by te voeg. Meng tot ‘n hanteerbare deeg.
3 Knie vir ses minute tot elastiese deeg.
4 Plaas deeg in mengbak. Bedek met kleefplastiek wat met bietjie olie gesmeer is sodat dit nie aan kleefplastiek vasklou nie.
5 Plaas op warm plek tot deeg dubbel in grootte rys, ongeveer 60 minute.
6 Verhit bietjie olie en soteer spek en gemengde kruie tot gaar. Kap in stukkies.
7 Knie deeg af. Roer spekstukkies by en laat rys weer tot dubbel in grootte.
8 Plaas deeg in ronde gesmeerde oondbak of kastrol met 20 cm deursnee. Laat rys weer tot dubbel in volume.
9 Bak vir 60 minute of tot toetspen skoon uitkom en brood goudbruin bo-op is.