Hierdie tiramisukoek sal jou gaste vir nog ’n sny laat vra!
Deur MARELI VISSER
1 koek
Bestanddele
120 ml (115 g) botter, by kamertemperatuur
250 ml (210 g) suiker
10 ml (2 t) vanieljegeursel
3 groot eiers
1 eiergeel
590 ml (250 g) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
1,25 ml (¼ t) koeksoda
1,25 ml (¼ t) sout
180 ml (¾ k) room
30 ml (2 e) kitskoffiepoeier
30 ml (2 e) kookwater
80 ml (65 g) suiker
125 ml (½ k) water
15 ml (1 e) koffielikeur
250 ml (1 k) kitsroom (Orley Whip)
1 houer (225 g) mascarpone
125 ml (66 g) versiersuiker
10 ml (2 t) vanielje
15 ml (1 e) koffielikeur
120 g sjokoladeskaafsels
1 pak (200 g) vingerkoekies
Metode
Voorverhit oond tot 180 °C en berei twee 20 cm-koekpanne voor deur dit met waspapier uit te voer en met kleefwerende sproei te spuit.
- Klop botter, suiker en vanieljegeursel tot lig en donsig. Klop eiers een op ’n slag by, asook eiergeel.
- Meng koekmeel, bakpoeier, koeksoda en sout. Voeg meelmengsel en room beurtelings by bottermengsel en meng goed ná elke byvoeging.
- Skep beslag in koekpanne en bak vir 25 tot 30 minute tot gaar.
- Terwyl koek bak, meng koffiepoeier en kookwater.
- Kook suiker en water. Verwyder van hitte en voeg 15 ml van bogenoemde koffiemengsel en koffielikeur by. Laat koffiestroop afkoel.
- Haal koek uit oond en laat afkoel.
- Klits kitsroom tot styf. Hou eenkant.
- Klop mascarpone, versiersuiker, vanieljegeursel, koffielikeur en res van koffiemengsel (stap 4) tot glad.
- Vou styfgeklopte room by mascarponemengsel in. Skep in versiersak.
- Stapel koek soos volg: Laag koek, bedruip met koffiestroop, spuit dan mascarponevulsel bo-op. Strooi ’n laag sjokoladeskaafsels. Volgende laag koek. Bedruip met koffiestroop, spuit dan mascarponevulsel op. Smeer koek se kante met res van versiersel toe. Pak vingerkoekies netjies om rand van koek. Bind vas met lint. Strooi res van sjokoladeskaafsel bo-oor.