Hierdie koekies is amper te mooi om te eet!
12 koekies
VLAVULSEL
500 ml (2 k) volroommelk
30 ml (2 e) botter
125 ml (½ k) suiker
knypie sout
45 ml (3 e) koekmeel
60 ml (4 e) mielieblom
2 ekstragroot eiers
60 ml (4 e) ekstra volroommelk
2,5 ml (½ t) vanieljegeursel
BUITEKANT
2 gekoopte vanieljesponskoeke
400 g (2 pakkies) sponsvingers
ongeveer 10 cm lint vir elke koekie
vars vrugte vir afronding
- Verhit melk, botter, suiker en sout saam in kastrol.
- Meng koekmeel en mielieblom.
- Klits eiers en melk. Voeg stadig by meelmengsel tot gemeng.
- Voeg bietjie van warm melk by en roer tot glad en sonder klonte. Gooi hierdie mengsel terug by warm melk in kastrol.
- Roer gedurig en verhit tot kookpunt tot vulsel verdik.
- Roer vanieljegeursel by. Laat bietjie afkoel en plaas kleefplastiek bo-oor vulsel sodat dit nie ’n vel vorm nie. Laat heeltemal afkoel.
- Buitekant Gebruik koekiedrukker met ’n deursnee van 6 cm of 7 cm en druk sirkels koek daaruit. Dit moet omtrent 2 cm hoog wees. Sny koeklae dunner indien nodig. Plaas koeksirkels entjies uitmekaar op bakplaat.
- Sny vingerkoekies in helfte en plak dit met ’n bietjie van vlamengsel rondom koeksirkels met gesnyde gedeelte onder.
- Skep genoeg vulsel in elke holte. Plaas in yskas tot benodig.
- Sit met vars vrugte voor.
WENK
Bind ’n stukkie lint om elke koekie om dit stewig te hou