Therese deel ’n sjokoladeresep wat sy by Suzette Muller gekry het. “Dié sjokoladekoekresep is vir my ’n gunsteling omdat dit eenvoudig en heerlik is. Tannie Suzette bak altyd hierdie koek en ná ’n gesmeek het ek die resep gekry. Almal wat die koek proe, wil altyd die resep hê.”
KOSLEKKERTE “Ek is nie ’n groot speketer nie en het by Woolworths ’n heerlike plaasvervanger gevind: Chicken rashers. Dit lyk amper soos spek en het ’n gerookte smaak. Dis heerlik en het omtrent geen vet in nie. Ek gebruik dit in boontjiesop en pastadisse.”
1 koek
Bestanddele
6 ekstragroot eiers, geskei
125 ml (½ k) water
500 ml (2 k) strooisuiker
250 ml (1 k) olie
500 ml (2 k) koekmeel
125 ml (½ k) kakao
2 ml sout
20 ml (4 t) bakpoeier
5 ml (1 t) vanieljegeursel
Versiersel
720 g (2 x 360 g-blikke) gekookte kondensmelk
1 Flake-sjokolade
Metode:
Stel oond op 180 °C.
- Koek Klits eiergele, water en strooisuiker met elektriese klitser saam tot liggeel en donserig. Roer olie by.
- Sif koekmeel, kakao en sout saam. Roer by eiermengsel.
- Klits eierwitte styf. Sif bakpoeier oor styfgeklitste eierwitte en vou by koekbeslag in.
- Roer vanieljegeursel by.
- Verdeel koekbeslag tussen twee koekpanne van 22 cm-deursnee wat met bakpapier uitgevoer en met kossproei gespuit is.
- Bak vir 25-30 minute of tot toetspen skoon uitkom.
- Laat bietjie in koekpanne afkoel en keer dan op afkoelrakkie uit tot heeltemal afgekoel.
- Versiersel Meng gekookte kondensmelk tot glad.
- Sny koeklae horisontaal in helfte deur. Smeer koeklae met gekookte kondensmelk, plaas opmekaar en smeer ook buitekant van koek met kondensmelk.
- Sprinkel Flake-sjokolade oor en versier soos verkies.