Valerie Slabbert het ‘n paar versoeke gekry vir haar Lancewood Cake-off-inskrywing in Afrikaans, so hier is dit nou. Onderaan die resep is die instruksies om dit individueel in kolwyntjiepapiertjies te bak. “Ek het die afgelope twee weke ongeveer 400 van die kleintjies gebak en ek kry nog net so ‘n groot ‘kick’ daaruit om elke keer my ‘blow torch’ te gebruik!”
KORS
300 g beskuitjies (Digestive- of Tennisbeskuitjies)
150 g botter
VULSEL
1 kg (4 x 250 g-houers) volvet-roomkaas
200 g strooisuiker
45 ml (3 e) koekmeelblom
4 eiers
250 ml (1 k) suurroom
200 ml suurlemoensap
fyngerasperde skil van 2 suurlemoene
SUURLEMOENSMEER
200 g strooisuiker
200 ml suurlemoensap
fyngerasperde skil van 2 suurlemoene
100 g botter
3 eiers
ITALIAANSE MERINGUE
310 g strooisuiker
80 ml (1/3 k) water
4 eierwitte
knypie kremetart
Voorverhit oond tot 180 °C.
1. Kors Smeer en voer ‘n losboom springpan met bakpapier.
Maak die beskuitjies fyn (ek gebruik die voedselverwerker dis baie vinnig – anders rol dit in ‘n plastieksakkie dan mors jy nie krummels die hele kombuis vol nie).
2. Voeg die botter by en mikrogolf vir so 2 minute tot gesmelt.
3. Druk die kors aan die onderkant van die pan vas. Bak vir 10 minute en verhoog die oond se temperatuur tot 230 °C.
4. Vulsel Klits die roomkaas, strooisuiker en koekmeelblom saam tot glad en romerig.
5. Voeg die eiers een vir een by en skraap die kante van die mengbak ná elke byvoeging.
6. Voeg die suurroom, suurlemoensap en suurlemoenskil by en meng tot glad.
7. Bak teen 230 °C vir 10 minute. Verlaag die oondtemperatuur tot 110 °C en bak vir ‘n verdere 30 minute tot gaar.
8. Laat die koek vir sowat 2 uur in die oond afkoel.
9. Suurlemoensmeer Verhit die suurlemoensap, strooisuiker, suurlemoenskil en botter in ‘n pot op die stoof teen matige hitte en roer totdat die suiker en botter gesmelt is.
10. Klits die eiers in ‘n aparte bak. Voeg die warm mengsel stadig by die geklitste eiers terwyl jy aanhoudend roer sodat die eiers nie gaar word nie.
Gooi die mengsel terug in die pot op die stoof en roer tot dik. Dit is reg as dit die agterkant van ‘n metaallepel bedek.
11. Italiaanse meringue: Roer die strooisuiker en water oor ‘n matige hitte totdat die suiker gesmelt is. Verhoog die temperatuur en bring tot kookpunt.
12. Klits die eierwitte en kremetart tot redelik styf.
13. Kook die stroop tot 115 °C. As jy nie ‘n termometer het nie – kook totdat dit ‘n deurskynende stroop vorm wat met groot borrels kook.
14. Voeg die kokende stroop by die eierwitte terwyl die menger dit klits. Klits op hoë spoed vir ongeveer 5 minute tot glansend en wolkerig (dit het ‘n malvalekkertekstuur).
15. Smeer die suurlemoensmeer oor die kaaskoek.
Spuit die Italiaanse meringue met ‘n spuitsak oor die kaaskoek, of skep dit met ‘n metaallepel oor. Skroei met ‘n blaasvlam of plaas dit vir 3 minute onder die roosterelement in die stoof as jy nie ‘n blaasvlam het nie.
16. Geniet dit!
Wenk: Vir individuele porsies, druk die kors in kolwyntjiehouers vas en bak vir 10 minute. Voeg die kaaskoekmengsel by tot amper vol en bak vir 20 minute teen 165 °C. Voltooi soos vir die groot koek.