As suksesvolle model het Ilse Fourie nie tyd gehad om haar passie vir kos uit te leef nie, maar dit het met haar deelname aan die MasterChefkompetisie in 2012 verander.
Sy was deel van die toptien en van daar af kook Ilse behoorlik ’n storm los en word nou die gourmetprinses genoem. Sy was al aanbieder van haar eie kookprogram, Ilse kook, op kykNET en het ook ‘n kookboek saam met haar vriendin en mededeelnemer aan MasterChef Sue-Ann Allen uitgegee.
Ilse vertel sy het te veel kosgunstelinge om op te noem, maar sy’s veral gek na ’n ware Indiese fees. Een met souserige kerries, knoffelnaanborde en raita. Haar trooskos is haar waterblommetjiepastei en sy eet omtrent als, behalwe afval. Ilse sê sy wil vreeslik graag deur Italië toer net vir die kosondervinding, maar haar eerste droom is ’n Thailand-kostoer.
Ilse sê as ’n mens onthaal, is atmosfeer die geheim. “Die regte musiek, kerslig en kos wat verruklik lyk, maar nog beter smaak, is die hoofbestanddele van ’n lekker kuier. Mense is geneig om te vergeet dat ons met ons oë eet en dis regtig nie moeilik om selfs eenvoudige skyfies en doopsous aantreklik te laat lyk by ’n braai nie. Ek maak ook seker dat my gaste heerlike happies het om aan te peusel. Dit gee my meer tyd om die hoofgereg te bedien sonder dat my gaste rasend honger is.”
Suurlemoen-en-pomelostroop-koek
1 koek
SUURLEMOEN-EN-POMELOSTROOP
1 suurlemoen
½ pienk pomelo
200 g strooisuiker
150 ml suurlemoensap
SPONSKOEK
140 g sagte botter
160 g strooisuiker
15 ml (1 e) marmelade
3 eiers
290 g bruismeel
200 ml volroommelk
bietjie versiersuiker, vir bo-oor
Stel oond op 170 °C.
- Suurlemoen-en-pomelostroop Skil suurlemoen- en pomeloskil in dun repies met groenteskiller. Net die skil word gebruik.
- Meng skil en oorblywende bestanddele en bring tot kookpunt.
- Kook oor hoë hitte tot skil deurskynend is, sowat 1 tot 2 minute. Verwyder van hitte en laat afkoel.
- Sponskoek Meng botter, suiker en marmelade in voedselverwerker tot romerig.
- Voeg eiers een vir een by en hou aan klop ná elke eier bygevoeg is.
- Voeg meel en melk by en hou aan klop tot beslag glad is.
- Verdeel beslag tussen agt bakkies wat met botter gesmeer is. Bak vir 25 tot 30 minute of tot toetspen skoon uitkom.
- Laat vir ongeveer 10 minute afkoel en keer dan op ’n afkoelrakkie (met bakplaat onder) uit.
- Steek gaatjies in koek met sosatiestokkie en giet sous oor terwyl koek nog warm is.
- Sif bietjie versiersuiker oor. Sit saam met jogurt voor, indien verkies.