Moenie dink jy kan net die hart van die artisjok eet nie. As jy eers hierdie dis geproe het, sal jy dit nooit weer anders wil eet nie
Die meeste mense is skrikkerig om artisjokke gaar te maak, maar dis beslis die moeite werd om te probeer, vertel die aktrise Hanli Rolfes. “Ek’t op ’n plaas naby Kyalami grootgeword en my ma het die pragtigste groentetuin gehad. ’n Groot deel was met artisjokke beplant. Artisjokke het ’n kort draseisoen en dit was my pa se gunstelingdis. Ek reken hy’t daaroor gevoel soos Esau oor die lensiesop wat Jakob gemaak het. Hierdie dis is beslis ook my gunsteling. Ek noem dit my Henkermahlzeit, of my ‘laaste feesmaal’, soos wat terdoodveroordeeldes mag versoek.
Heel artisjokke met nagemaakte Hollandaisesous
4 porsies
4 groot vars artisjokke
5 ml (1 t) sout
NAGEMAAKTE HOLLANDAISESOUS
20 ml (4 t) botter
20 ml (4 t) koekmeel
250 ml (1 k) warm volroommelk
2 ml sout
knypie peper
1 ektragroot eiergeel
45 ml (3 e) suurlemoensous (lemon curd)
1 Was die artisjokke in soutwater en dan weer in vars water. As jy dit self kan pluk, laat ’n stingel van ongeveer 10 cm aan. Dis ’n heerlike gedeelte van die artisjok wat ook geëet kan word.
2 Maak ’n diep kastrol vol water en bring tot kookpunt. Voeg 5 ml (1 t) sout by. Plaas artisjokke daarin, kook vir sowat 50-60 minute en dreineer.
3 Trek die hardste lagie buiteblare af – dis nie nodig om meer as die 6 oudste blare te verwyder nie.
4 Skep in ’n geskikte opdienbord.
5 Nagemaakte Hollandaisesous Meng botter en koekmeel oor lae hitte tot gesmelt.
6 Voeg warm melk stadig by terwyl jy roer sodat dit nie klonte vorm nie.
7 Kook vir 3-5 minute oor lae hitte totdat sous glad en dik is.
8 Voeg sout en peper by.
9 Verwyder van hitte, voeg klein bietjie van warm witsous by eiergeel, meng goed en giet terug by witsous in kastrol.
10 Roer suurlemoensous by.