Corlea Botha het ’n fantastiese stem en dit lyk asof sy net so fantasties kan kook. Sy vertel sy hou van disse wat anders voorberei word. “As ek ’n gereg kry waarvan ek hou, gaan soek ek die resep en probeer dit tot ek met die smaak tevrede is. Ek dink ek is soos my ouma – sy kon enige resep die eerste keer regkry.”
Tiramisu
8 porsies
KOFFIEMENGSEL
500 ml (2 k) kookwater
75 ml (5 e) tot 90 ml (6 e) sterk koffiekorrels
ROOMMENGSEL
8 eiers
125 ml (½ k) strooisuiker
50 ml Amaretto of karamelvodka
25 ml brandewyn
500 g (2 x 250 g) mascarponekaas
AFRONDING
400 g (2 x 200 g) vingerbeskuitjiesekstra amaretto/karamelvodkakakao vir bo-oor
- Koffiemengsel Meng kookwater en koffiekorrels in vlak bakkie. Hou eenkant tot benodig.
- Roommengsel Skei eiers. Gebruik twee diep mengbakke.
- Klits eiergele met elektriese klitser tot romerig en liggeel, ongeveer 5 minute.
- Klits strooisuiker en amaretto/karamelvodka by eiergele. Klits weer vir 2 minute met elektriese klitser.
- Voeg brandewyn by en klits weer goed met elektriese klitser vir 1 minuut.
- Voeg mascarponekaas by en klits weer met elektriese klitser tot glad.
- Klits eierwitte met skoon klitsers en elektriese klitser tot stywepuntstadium. As mengbak omgedop word, moet eierwitte nie uitval nie.
- Vou eierwitte met spaan by romerige mengsel in tot net gemeng, maar moenie te veel roer nie.
- Afronding Doop vingerbeskuitjies in koffiemengsel, draai dan vinnig om en haal ná 2 sekondes uit, solank koekie net nie breek nie.
- Sit dit langs mekaar in tertbak van 34 cm x 22 cm wat met kossproei gespuit is.
- Smeer helfte van roommengsel oor koekies tot koekies nie meer sigbaar is nie.
- Sprinkel ’n bietjie ameretto/karamelvodka liggies oor roommengsel.
- Herhaal koekie-, roommengsel- en amaretto/karamelvodkalaag.
- Laat in yskas vir 4 uur tot gestol. Sny in blokke en skep in tertbordjies.
- Sprinkel kakao en neute (opsioneel) oor net voor opdiening.