Maak hierdie slaai sommer al in die oggend. Bedek dit en laat dit eenkant staan. As dit regtig snikheetwarm is, kan jy dit in die yskas bêre
Aktrise Anna-Mart van der Merwe sê sy sal haar nie juis as ’n natuurlike of ywerige kok beskryf nie, maar sy’s mal oor kos en om saam met vriende en familie “elmboë op die tafel” te kuier. “Soos Annie Basson altyd sê: ‘As jy kan lees, kan jy kook!’” sê Anna-Mart. Sy sê met kos vier ons die lewe en voed ons ons liggame. “Dis belangrik. As ek voel ek gaan stres, of daar’s nie eintlik tyd vir ’n lang kuier nie, het ek geen probleem om byvoorbeeld net lekker kaas en brood en ’n goeie bottel wyn op die tafel te sit en dit ’n ‘school night’ te noem nie. Dit gaan vir my oor die saamwees en saam ‘broodjie breek’. Al is dit dan net gou-gou in die middel van die week vir so ’n uurtjie.” Anna-Mart sê as sy die dag onthaal, hou sy daarvan om die meeste van die kos voor die tyd klaar te maak. “Ek kan dan ontspan en saam met die gaste kuier in plaas daarvan om histeries in die kombuis te moet rondhardloop.” Sy sê sy het ’n swak vir malvalekkers en soesji en sal amper haar siel vir regte Griekse jogurt met heuning en ’n goeie granola verkoop.
Gemarineerde artisjokslaai
8 porsies
166 ml (2/3 k) olyfolie
125 ml (½ k) lemoensap
1 lemoenskil, fyngerasper
3 knoffelhuisies, fyngedruk
5 ml (1 t) suiker
5 ml (1 t) droë mosterdpoeier
sout en peper na smaak
3 x 400 g-blikke artisjokke, gedreineer en in helftes gesny
1 Klits olie, lemoensap, lemoenskil, knoffel, suiker, mosterdpoeier, sout en peper saam.
2 Sit artisjokke in bak en gooi slaaisous oor. Marineer vir minstens 30 minute.