Angelique Gerber is ‘n bekende aktrise en aanbieder. Sy sê sy wens sy was ‘n ywerige kok, maar sy maak net kos as sy moet.
Angelique Gerber is ‘n bekende aktrise en aanbieder. Sy sê sy wens sy was ‘n ywerige kok, maar sy maak net kos as sy moet. Angelique vertel sy eet graag pasta, verkieslik met’n “tamatiesousie en basiliekruid”. Haar gunstelingbestanddeel is hoeka tamaties en uie.
KOSFILOSOFIE Maak nie saak wat jy maak nie, al is dit hoe eenvoudig, as dit met liefde gemaak is, sal dit altyd lekker vir jou vriende, familie en geliefdes smaak. Kos en lekker geselskap is die wenresep!
Cordon bleu-hoender
6 porsies
HOENDER
6 hoenderborsies, ontvel en ontbeen
6 skyfies ham
6 skyfies cheddarkaas
genoeg peuselstokkies
OM IN TE ROL
125 ml (½ k) koekmeel
5 ml (1 t) sout
15 ml (1 e) hoenderspeserye
GROENTE
klont botter
3 uie, gekap
6 wortels, geskil en in dun skyfies
1 klein botterskorsie, geskil en inblokkies gesny
250 g (1 pakkie) jong groenboontjies
1 groen soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
1 rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
250 g (1 pakkie) sampioene, gehalveer
sout en peper na smaak
250 ml (1 k) room
1 Hoender Sny hoenderborsies horisontaal in helfte, maar nie heeltemal deur nie.
2 Vul met ham en kaas en steek met peuselstokkies toe.
3 Om in te rol Meng koekmeel,sout en hoenderspeserye in vlak mengbak.
4 Rol hoenderborsies daarin tot goed bedek.
5 Verhit bietjie olie en braai hoender oor matige hitte tot goudbruin.
6 Hou warm terwyl groente klaar voorberei word. Onthou om peuselstokkies voor opdiening te verwyder.
7 Groente Verhit botter en braai uie tot amper sag. Voeg wortels, botterskorsie en groenboontjies by en soteer vir 10 minute.
8 Voeg soetrissie en sampioene by en soteer vir nog 3 minute.
9 Skep groente in oondbak. Geur met sout en peper.
10 Giet room oor en rooster vir 10 minute tot groente gouerige kleur het.
11 Sit warm voor.