Die bekende aktrise Anel Alexander sê sy was nog nooit regtig ’n ywerige kok nie, maar dit het nou verander.
“Ek kom uit ’n familie wat vreeslik lief is vir kos en kuier. Op die oomblik is ek totaal en al aan Thai-kos verslaaf.” Beskuit vat haar egter terug na haar kinderdae. “My swart ma, Jane, het elke Woensdag ’n baksel karringmelk- en volgraanbeskuit gebak. Sy het altyd vir ons ’n nat stukkie gebêre vir wanneer ons van die skool af kom. Ons kinders het letterlik oor die nat beskuit baklei.”
KOSFILOSOFIE Hou dit vars en eenvoudig. Ek hou nie van doodgekookte of doodgebraaide kos en groente nie. Eet kos so naby as wat dit uit die natuur kom.
Vegetariese slaai
4 porsies
1 bos vars beet
45 ml (3 e) olyfolie
45 ml (3 e) balsemieke asyn
vars roosmaryn na smaak
8 jong murgpampoentjies, in dun skyfies gesny
1 pakkie jong groenboontjies (string beans)
1 pakkie ertjiepeule (sugar snaps)
200 g (1 pak) babaspinasie
1 fetakaasskyf/gorgonzola of bokmelkkaas, gekrummel
50 g (½ pakkie) gevlokte amandels
SLAAISOUS
45 ml (3 e) suurlemoensap
60 ml (4 e) olyfolie
2,5 ml (½ t) Dijonmosterd
10 ml (2 t) sagte bruinsuiker of fruktose
knypie sout knypie peper
3 grasuie, gekap
Stel oond op 180 °C.
1 Skil en sny beet in blokke. Plaas in oondpan.
2 Voeg olyfolie, balsemieke asyn en roosmaryn by. Meng goed.
3 Bedek oondpan met foelie en bak vir 40 tot 60 minute tot sag. Roer elke 20 minute. Jy moet beet met mes kan deursteek. Hou eenkant tot afgekoel.
4 Voeg murgpampoentjies, groenboontjies, ertjiepeule en babaspinasie bymekaar en meng. Verdeel tussen opdienborde.
5 Sprinkel beet, kaas en amandels bo-oor.
6 Slaaisous Plaas bestanddele in geskikte houer en skud tot goed gemeng.
7 Bedien slaaisous apart saam met slaai.