Andriëtte Norman het sedert haar Idols-dae die sangwêreld stormenderhand verower. Hoewel talle optredes regoor die land haar besig hou, geniet sy dit om te kook as sy by die huis is.
Andriëtte Norman het sedert haar Idols-dae die sangwêreld stormenderhand verower. Hoewel talle optredes regoor die land haar besig hou, geniet sy dit om te kook as sy by die huis is. “Ek sal graag nog wil leer hoe om met speserye en kruie te werk en wat waarby pas. Daaroor is ek nog baie oningelig.” Sy’s gek na haar ma se boontjiebredie, hou baie van die sjef Nic van Wyk se kos en wil nog graag na Frankryk en België reis. Kuba is ook op haar lys. “Ek het gehoor die kos daar is baie lekker …”
ONTHAALWENK Moenie vir mense te veel kos as voorgereg gee nie. Hulle eet hulle dan trommeldik en geniet nie die hoofmaaltyd nie.
Maklike Thai-hoender
4 porsies
bietjie olie
1 ui, in skyfies gesny
1 geel soetrissie, ontpit en in repies gesny
1 rooi soetrissie, ontpit en in repies gesny
1 groen soetrissie, ontpit en in repies gesny
4 hoenderborsies, in repies gesny
20 ml (4 t) Portugese speserye (Robertson)
15 ml (1 e) Cajun-speserye (Ina Paarman)
sout en peper na smaak
100 g (1 pakkie) gesoute kasjoeneute, grofgekap
250 g (1 pak) eiernoedels
1 Verhit bietjie olie en soteer ui tot sag en effens gekaramelliseer. Voeg soetrissies by en soteer nog bietjie. Skep mengsel uit en hou eenkant.
2 Verhit nog olie en braai hoenderrepies saam met Portugese en Cajun-speserye tot gaar. Geur met sout en peper.
3 Voeg kasjoeneute asook ui-en-soetrissie-mengsel by hoenderrepies in braaipan.
4 Gooi 750 ml (3 k)kookwater in diep kastrol op matige hitte. Gooi eiernoedels in kookwater. Laat prut vir vyf minute tot noedels alle vloeistof geabsorbeer het. Hierdie noedels word nie gedreineer nie.
5 Skep gaar eiernoedels by hoenderrepies in kastrol.
6 Sit dadelik voor.