Vir Andries Botha, die sanger met die besondere stem, is kosmaak ’n absolute passie. “Kosmaak is vir my as musikant en vervaardiger baie op dieselfde basis gegrond aangesien ek nog ’n kreatiewe kant van my menswees kan uitleef.” Hy deel sy Capreseslaai-resep met ons
Hy sê ook sommer sonder om te skroom: “My kos is altyd lekker. Ek mag maar kook!” Andries het vele kosgunstelinge, maar is absoluut versot op Vindalookerrie en eet tuisgemaakte hoendersop as hy ’n bietjie troos nodig het. Die een ding wat jy hom nie moet gee om te eet nie, is oesters. Hy sou graag saam met Jimmy Hendrix om ’n tafel wou sit en kuier. “Hy is my grootste ikoon wat musiek betref.” ’n Kosmekka wat hy moet uitsonder, is Italië. “Daardie mense is meesters. Ek dink die groot verskil is dat alles met vars produkte gemaak word. Die smaaksensasie is ongelooflik.”
ONTHAALWENKE “’n Moet is beslis die regte soort wyn saam met die maal. Die enigste moenie is om nooit vir die kok te sê hoe om sy kos voor te berei nie, want hy doen alles vir jou.”
KOOKWENK “Wees kreatief en probeer nuwe kombinasies. Moenie bang wees om te eksperimenteer nie. Laat waai met sout en peper.”
6 tot 8 porsies
6 groot tamaties
300 g (1 rol) Simonsbergmozzarellakaas
140 g (1 botteltjie) gekoopte roket-en-okkerneut-pesto
vars basiliekruidblare
sout en peper na smaak
VIR BO-OOR
Olyfolie
balsemieke asyn
1 Sny tamaties in ongeveer 5 mm dik skywe en sit dit op plat opdienbord.
2 Sny mozzarellakaas in skywe van ongeveer 1 cm dik en sit dit bo-op tamaties.
3 Herhaal met tamatieskyf op elke mozzarellaskyf.
4 Skep ’n bietjie pesto op elke tamatiehopie. Sprinkel sout en peper oor.
5 Rond met basiliekruidblare af.
6 Vir bo-oor Sprinkel genoeg olyfolie en balsemieke asyn oor.