Amy Kleinhans-Curd is nog net so pragtig soos toe sy in 1992 as Mej Suid-Afrika gekroon is. As ma én sakevrou is haar tyd maar knap, maar haar roomysresep wat sy by sjef Margot Janse van The Tasting Room, La Quartier op Franschhoek, gekry het, is vinnig om te maak en altyd ’n sukses. “Hierdie resep se sukses is gewaarborg en almal is altyd gek daarna. Dit laat my soos ’n bekroonde sjef lyk wanneer ek dit voorsit.” Amy sê haar grootste kosgeheim is om altyd Teriyaki-sous byderhand te hê, veral wanneer sy vir ’n groot klomp mense kook. “Nie net is dié sous heerlik nie, maar dit verberg ook enige smake wat dalk tydens die kookproses verkeerd gegaan het!” Amy sê haar gunstelingkos is aartappelsop en melkkos. “Niks kan dit oortref nie.”
4 tot 6 porsies
500 ml (2 k) vars room
385 g (1 blik) kondensmelk
1 pakkie halva
50 g (½ pakkie) pistasieneute, fyngekap
500 ml (2 k) Turkse lekkers, in klein blokkies gesny
1 Klits room tot net styf met ’n elektriese klitser.
2 Roer kondensmelk met lepel by styfgeklitste room.
3 Roer ook halva, pistasieneute en Turkse lekkers by.
4 Skep mengsel in geskikte bak en plaas in vrieskas tot benodig. WENK
Wenk
Halva is by spesialiteitswinkels beskikbaar. Jy kan ook peanut brittle fyner kap en gebruik. Dis ’n soeter plaasvervanger as jy nie halva kan kry nie