Akteur Altus Theart verskyn gereeld op die kassie en die wye doek.
Tuis is vroulief Zetske van Pletzen die een wat hou van kook en om nuwe disse te probeer. Altus eet graag braaivleis en sy gunstelingbestanddeel is juis vleis. Sy ma se macaroni- en-kaas laat hom aan sy kinderdae terugdink en hy bewonder die bekende TV-sjef Gordon Ramsay.
KOOKWENK
Moenie altyd by die resep hou nie!
6 tot 8 porsies
bietjie olyfolie
3 hoenderborsies
4 hoenderdye
sout en peper na smaak
hoenderspeserye na smaak
250 ml (1 k) hoenderaftreksel
500 ml (2 k) kookwater
3 uie, gekap
5 00-700 g broccoli, in blommetjies gebreek
410 g (1 blik) hoenderroomsop
125 ml (½ k) Bulgaarse jogurt
125 ml (½ k) mayonnaise
7,5 ml (1½ t) matige kerriepoeier
400 ml (1 blik) klappermelk
250 ml (1 k) cheddarkaas, gerasper
KORS
375 ml (1½ k) vars witbroodkrummels
2,5 ml (½ t) droë gemengde kruie
45 ml (3 e) gesmelte botter
Stel oond op 180 °C.
1 Verhit bietjie olie in kastrol. Geur hoenderporsies met sout, peper en hoenderspeserye.
2 Braai hoenderporsies tot ligbruin in olie. Dreineer oortollige olie.
3 Giet hoenderaftreksel in kastrol en nog 500 ml (2 k) kookwater. Kook hoenderporsies vir 25 minute en skakel dan stoofplaat af. Laat hoenderporsies in hoenderaftreksel afkoel.
4 Verhit nog bietjie olie in ander braaipan en braai uie tot sag.
5 Dreineer aftreksel, maar behou 250 ml (1 k) van hoenderaftreksel.
6 Ontbeen en vlok hoenderporsies in kleiner stukkies.
7 Meng broccoli, hoenderstukkies en ui bymekaar.
8 Spuit oondbak van 22 cm x 22 cm met kossproei.
9 Skep hoendermengsel in bak.
10 Meng hoenderaftreksel, hoenderroomsop, jogurt, mayonnaise, kerrie en klappermelk goed saam. Roer kaas ook by tot gemeng. Skep oor hoendermengsel.
11 Kors Meng broodkrummels en kruie tot gemeng. Roer gesmelte botter by en roer weer.
12 Sprinkel oor hoendergereg.
13 Bak vir 45 minute of tot goudbruin.
WENK
Een groot broccoli is ongeveer 500-700 g