Anien le Roux “help” al vandag sy kan onthou in die kombuis. Vandag raak mense in vervoering oor haar kos
Maryke Roberts
Onder die reuse-eikebome in Dorpstraat op Stellenbosch skep twee vroue elke dag wengeregte in die ontspanne atmosfeer van Cognito-restaurant.
Anien le Roux en Diani Smit besit die lekkerbekplek sedert 2004 en was al verskeie male in die gewilde Eat Out se benoemings vir Stellenbosch. Anien het haar sjefsopleiding by die Institute of Culinary Arts op Stellenbosch voltooi en toe haar vaardighede by van die land se toprestaurante, soos The French Connection en Chamonix-restaurant, gaan slyp. Diani het ’n honneursgraad in kommunikasiewetenskappe en spits haar meer toe op advertensie- en skakelwese en kommunikasienavorsing. Dis al hierdie vaardighede wat van Anien en Diani ’n wenspan maak.
Cognito het ook ’n jaar of wat gelede die gaping in die mark raakgesien vir spyseniering en jy kan nou hul smaaklike geregte tuis ook geniet. Anien vertel.
Vandat ek kan onthou, was ek in die kombuis, besig om te “help”. Ek is baie dankbaar dat my ma so geduldig met my was, want ek het die meeste van die tyd net ‘n gemors gemaak wat sy moes skoonmaak! ’n Kombuis wat na vla, klapperys, oondgeroosterde hoender, skaapboud met roosmaryn en melkkos ruik, herinner my aan my kinderdae. My ma maak baie lekker kos en het altyd moeite gedoen om die kos interessant en mooi voor te sit. Daar was ook altyd ’n groot verskeidenheid op die tafel en die hele huis het heerlik geruik!
Ek en Diani is al agt jaar by die restaurant. Diani kook graag en is baie handig in die kombuis. Dit is lekker om te weet daar is altyd iemand om te help as die kombuis te besig raak. Ek dink die oplewing in beter bestanddele, die wegbeweeg van gemorskos en die herlewing van organiese markte, maak kosmaak meer toeganklik vir almal. Dit hou vir seker die restaurante op hul tone, want jou gaste het baie meer kennis.
Ek kook graag met vars koljander, tiemie en basiliekruid. Dit pas by my styl van kosmaak en komplementeer al die geure wat ek gebruik. My kookstyl by Cognito is eenvoudig en geurig. Daar is soveel smake, kleure en geure van regoor die wêreld wat ek wil deurgee in die kos wat ons bedien. Dit is hoekom ons spyskaart so groot is, want elke dis kan slegs een of twee geure bevat, anders kom die geur nie tot sy reg nie.
My gunstelingkosbestemmings is te veel om op te noem, maar een wat uitstaan, is die Stellenbosch-varsproduktemark wat elke Saterdag by Oude Libertas gehou word. Dit is heerlik om op ’n Saterdagoggend ontspanne te wees en jou pad deur die markie te proe! Daar is net soveel talentvolle mense wat hier werk.
Snoekpatee, sagte kase, vars gebakte brood en marmelade is my trooskos. Ek eet dit soveel en so gereeld as wat ek kan. Ek drink graag sjampanje – en so nou en dan ’n koppie rooibostee.
As ek moet tussen uiteet of tuisbly kies, bly ek tuis. En dan het ek altyd ’n ou sagte plekkie vir enigiets met ’n sampioensous – selfs pizza! Ek het ’n lang lysie gunstelinggeregte wat ander mense kook en ek gereeld “bestel” as ek daar gaan kuier, soos my ma se kapokaartappelgereg met varkworsies en geelperskes en haar beskuit; my ouma se groenboontjiebredie; Diani se lemon meringue; en my man se tunabroodjies.
As ek nie in die restaurantbedryf was nie, sou ek graag ’n juffrou wou wees. Dit is vir my so lekker om te sien hoe kinders dit geniet om kos te maak en nuwe smake ontdek.
Cognito-restaurant: 021 882 8696, besoek www.cognitorestaurant.co.za of volg hulle op Twitter en Facebook
SOURCES
Verskaf