Jy hoef nie vanaand oor aandete kop te krap nie. Maak hierdie steak-en-sampioen-herderspastei
Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS
4 porsies
3 groot aartappels, geskil en in blokke gesny
1 blokkie hoenderaftreksel
250 ml (1 k) cheddarkaas, gerasper
klont botter
knypie neutmuskaat
VLEISVULSEL
60 ml (4 e) koekmeel
knypie sout
knypie swartpeper
800 g steak, in blokkies gesny
olie
2 uie, gekap
5 ml (1 t) vars knoffel, gekap
1 selderystingel, fyngekap
2,5 ml (½ t) droë tiemie
2,5 ml (½ t) droë pietersielie
250 g (1 pakkie) sampioene, in kwarte gesny
15 ml (1 e) Bisto
375 ml (1½ k) kookwater
30 ml (2 e) blatjang
knypie sout en peper
LEES OOK: Hamquiche met aartappelkors
Stel oond op 180 °C.
- Kook aartappels saam met hoenderaftrekselblokkie. Aartappels moet sag wees, ongeveer 15 minute.
- Dreineer en maak aartappels met vurk fyn. Roer cheddarkaas, botter en neutmuskaat by. Hou eenkant.
- Vleisvulsel Skep koekmeel, sout en peper in plastieksakkie. Gooi vleisblokkies daarby in. Knoop sakkie toe en skud tot vleisblokkies met koekmeel bedek is.
- Verhit bietjie olie en braai vleisblokkies in sarsies tot bruinerig.
- Verhit nog olie indien nodig. Soteer uie, knoffel, seldery, tiemie en pietersielie tot uie sag is. Voeg sampioene by en soteer tot sag. Skep gebraaide vleisblokkies terug in kastrol.
- Meng Bisto, water en blatjang tot glad en sonder klonte. Voeg sout en peper by. Voeg by vleisblokkies in kastrol.
- Plaas kastrol se deksel op en prut vir 25 minute oor lae hitte.
- Skep fyn aartappels bo-op en maak gelyk met vurk.
- Bak vir 15 minute en plaas dan onder oond se roosterelement tot goudbruin bo-op.