Moenie afgeskrik word deur die voorbereiding nie, as jy goed beplan, is dit ’n maklike en vinnige resep. Dis heerlik vir ’n maaltyd en kan met varsgebakte brood en koue witwyn bedien word.
4 porsies
Bestanddele
Salm
4 stukkies Noorweegse salm (ongeveer 160-200g per stukkie)
80-100 g botter
120 gr blokkies pynappel
40 gr ingelegde gemmer
100 gr gemengde slaaispruite
80 gr gewaste slaaiblare
2 stukkies sprietuie, gewas en in dun skyfies gesny
8 gr vars koljander, gewas
Olie om die salm te bak
Sout en peper
1 grenadella, pitte verwyder
10 gr geroosterde sesamesaadjies
Slaaisous
Sap van twee lemmetjies
1 knoffelhuisie
’n Halwe brandrissie
70 ml olie (olyf of kook-olie)
Sout na smaak
Avokado puree
4 avokadopere
Sap van 4 lemmetjies
Sout en peper na smaak
Sesam-puree
200 ml sesamsaadjies
700 ml water
50 ml suiker
80 ml mayonnaise
Sout na smaak
Melk om te meng
Metode
Salm
1 Skil die pynappel en sny die vrug in klein blokkies.
2 Plaas in ’n warm pan en laat aan een kant goudbruin bak.
3 Haal uit die pan en gooi van die gepekelde gemmer-sous oor die vrug. Sit eenkant.
Berei die sesamsaad-puree, die avokadopuree en die slaaisous en sit eenkant.
Slaaisous
Sny die knoffel en brandrissie lekker fyn, druk lemmetjies daaroor uit en roer die olie en sout by.
Avokado-puree
Sit al die bestanddele in ’n menger en slaan fyn tot pulp of druk deur ’n sif. Sit eenkant.
Sesam-puree
Kook melk en sesamsaadjies in pot en kook oor lae hitte vir 30 minute. Gooi enige oortollige water af en sit in menger en gooi net genoeg melk by sodat die lemme aanhou draai. Slaan fyn tot pureevorm en geur met sout en mayonnaise. Stoor in bottel tot opdiening.
Rooster die sesam-saadjies in ’n medium hitte pan tot goudbruin en sit eenkant.
En dan
Bak die salm in ’n medium hitte pan, nadat die velkant van die vis geolie is.
1 Geur die vis oraloor en sit dan met vel na onder in die pan.
2 As die vel goudkleurig word, skep die botter in en skep gedurig die gesmelte botter oor die vis. Moenie die hitte te hoog stel nie en moenie die botter laat brand nie.
3 Sit die pan in die oond vir ongeveer 3 minute, want salm is op sy beste as dit effe pienk is.
4 Meng die slaaiblare, uie, koljander en gemmer en geur met die slaaisous.
5 Pak die gebraaide pynappel op ’n bord en skeppies van die grenedellapulp, sesam- en avokadopuree en sit heel laaste die salmblokkies tussenin en sprinkel die geroosterde sesam-saadjies bo-oor.