Inè Reynierse is ’n kinderboekskrywer, uitvoerende kunstenaar, stem-akteur, kopieskrywer, iemand wat met idees rondspeel en ’n nuwe kosfoendie wat daarvan hou om idees op ’n vars manier uit te beeld. Haar projekte wissel van radiostories vir kinders op ’n nasionale radionetwerk tot korporatiewe advertensieveldtogte en nog veel meer.
Maryke Roberts
Sy het pas die boek Low carb is LEKKER by Struik Lifestyle die lig laat sien. Dit was haar missie om die voordele wat ’n lae-koolhidraatleefstyl het, haalbaar en bekostigbaar vir vriende en familie te maak. Haar laekoolhidraat-weergawes van Suid-Afrika se mees gewilde en geliefde resepte het vinnig opslae in sosiale netwerke gemaak en sy het besef dat daar werklik ’n behoefte aan ’n versameling laekoolhidraatresepte op die Suid-Afrikaanse mark is, en die boek is gebore.
RESEP Maak Iné se soet Italiaanse mini-frikadelsop uit Low Carb is Lekker deur Struik Lifestyle
Daar is maklike koring-, graan- en suikervrye plaasvervangers vir familiegunstelinge (dink aan bobotie, macaroni-en-kaas en kerrie-en-rys), vinnige trooskos (gnocchi en hoenderpastei) asook baie dekadente bederfkos (malvapoeding, sjokoladebruintjies en melktert). Geskryf deur ’n ma vir ander ma’s wat hul geliefdes se gesondheid deur voeding wil herstel.
Die boek is ook in Engels beskikbaar.
Hoe sal jy jou kosstyl tuis beskryf?
Ek glo kos is eerstens jou liggaam se “brandstof”. Verder kan kos die siel heimlik koester en dis bedoel om mee fees te vier! My kosstyl is oningewikkeld, dog interessant en geurig. Ek hou daarvan om disse so ’n bietjie uit die spreekwoordelike boks uit te haal en anders te bedink. Meer as enigiets glo ek die kos wat ek bedien, moet propvol goeie voedingswaarde wees om die lyfies onder ons dak optimaal te voed. Ek sou sê ek bedien gesonde koesterkos met ’n rustic flair.
Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het?
Ek was so ’n paar jaar gelede besig om ’n nuwe kinder-konsep vir Riaan Cruywagen en wyle Verna Vels te skryf. Ek moes verskeie episodes klaarskryf en my liewe man het aangebied om ons huishouding te hanteer, terwyl ek vir ’n paar dae in ’n gastehuis gaan werk het. Hy verras my toe een aand vir aandete. Ek kan nie presies onthou wat ons geeët het nie, ek onthou bloot hoe lekker dit was om in sy oë te kyk, in plaas van ’n rekenaarskerm.
Wat is jou terugvaldis as jy vinnig iets moet kook?
My ontbytpizza-resep is letterlik iets wat jy vir enige maal kan geniet en boonop kan ek wat ook al in die yskas beskikbaar is, daarvoor gebruik. Dit het die perfekte kombinasie gesonde vette, is ontsettend vullend en is altyd ’n wenner!
Waar kom jou belangstelling in kos vandaan en waar het jy jou opleiding ondergaan?
Ek is geensins ’n sjef nie! Ek het my liefde en passie vir kos langs my Duitse ouma se kombuistafel gekry. Sy het nooit resepteboeke gebruik nie. “Oma” het my geleer om intuitief kos te maak en te waag. Elke dis was altyd ’n avontuur. Min het ek geweet hoe waardevol hierdie vermoë gaan wees eendag. Ek moes letterlik my pad deur resepte voel en toets toe ons oorgeskakel het na ’n laekoolhidraat-leefstyl. Dit was die dae voor die oorvloed laekoolhidraat-resepte, en die meeste resepte wat beskikbaar was, was nie bekende sielskos nie.
Beskryf hoe jy voel as jy kook en mense lekker eet?
Oe jinne, dit gee my so ’n diepe gevoel van genoegdoening. Ek voel ek bereik my diepste skeppingsdoel.
Wat is die een dis wat jou vriende of familie telkemale voor vra en jy oor en oor moet maak?
My man is mal oor my groen hoenderkerrie. Ek het al ophou vra waarvan hy vir aandete sal hou. Ek ken al die antwoord op daardie vraag. My kinders is mal oor die laekoolhidraat-pannekoek en ons vriende glo nooit my skons het regtig egtig geen meel of suiker in nie. So dis altyd bo-op die skimplysie.
Wat was jou slegste maal ooit?
’n Vlassaad-pizzabasis! Dit was so aaklig! Die manne se gesigte het dadelik gewys wat hulle dink, maar my dogter het so half en half probeer glimlag en probeer maak of dit lekker was net om my beter te laat voel.
Dek jy mooi tafel met kerse en blomme en naambordjies, of hou jy van informele bediening?
Ek is mal oor feestelike tafels met kreatiewe versierings wanneer ons gaste kry. As gesin gaan die fokus om ons etenstafel meer oor die opvang en hoogtepunte van almal se dag en nie soveel oor die versiering nie. Wanneer al my geliefdes saam om ’n tafel sit, is die tafel reeds versier, in my opinie.
Watter drie bekende mense sou jy graag vir aandete nooi en hoekom?
Chris Chameleon, Nataniël en Katinka Heyns. Chris sal met sy pragtige taal en unieke uitkyk ons atmosfeer inkleur, Katinka sal ons bederf met die skoonheid opgesluit in die eenvoud van kosbare verhale en Nataniël sal ons vir onsself laat lag. En ek sal wat wil gee om sy eerlike opinie aangaande my konkoksies te hoor.
Wat sal op die spyskaart wees vir hierdie bekendes?
Wildesampioen-en-biltongsop met pampoensaad-brood, Marokkaanse hoender-en-amandelpastilla en vir nagereg, pepermentkarameltertjies. Alles suiker- en graanvry natuurlik!
Wat is trooskos vir jou en hoekom?
Bredie op ’n koue dag, dit laat my voel alles gaan reg uitwerk om die een of ander rede. Ek voel dan sommer net ten volle gevoed en gelukkig.
Wat is jou lewensleuse?
Vind elke dag iets om te vier en vier dit werklik. Ek glo dit kweek ’n dankbare, optimistiese hart. Soms vier ek net al die verskillende skakerings van groen wat ’n mens op ’n grys dag kan sien. Klein of groot, vind aan die einde van elke dag iets om te vier.
Is daar een dis wat jou ma, suster, vriend maak waaroor jy mal is en waarvoor jy gereeld vra as jy nie lus is vir kook nie?
My man is ’n meesterbraaier. Hy kan my behoorlik in ’n wip vang met een van sy gebraaide Karootjoppies!
Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op?
Knoffel
Wat is jou gunstelingkookboek?
My eie kookboek – dis bloot die enigste bruikbare kookboek wat ek tans besit en ons lewensstyl soos ’n handskoen pas. Dis lekker om al my reseppies op een plek te he. Soms voel ek Penguin Random House het hom net vir my gedruk. Dit was ook ’n ongelooflike voorreg om vir my 13-jarige dogter ’n kopie te gee. Sy is deesdae die een in ons huis wat bak, met dié dat ons tweelingdogtertjies my baie besig hou. Maar in alle eerlikheid is die grootste opwinding vir my steeds om nuwe resepte vir my gesin te “ontkoolhidraad”.
Wat is jou doodsonde met kos?
Ek is mal oor donker sjokolade en cappuchino met regte room. So een van my lekkerste skelm uitstappies is na De Villiers Chocolates by die Spice Route buite die Paarl. Hulle bedien beide.
Wat is jou een geheim vir ’n lekker braai?
’n Heerlike bord laekoolhidraat-peuselhappies of stoepkos soos ek dit graag noem. Varsgebakte brood of halloumi en avo-happies. Skyfies en ’n doopsous is sommer gou vergete as almal lekker peusel aan regte kos, met eenvoudige, maar keurige, bestanddele. Dis in elk geval die laaste kans wat ek kry, want as my man eers sy spesialis-braaivleisie opdis, staan niks wat ek maak meer ’n kans vir die kollig nie.
Jou grootste kombuisflater?
Terwyl ek swanger was, het ek paar keer vergeet om my menger se deksel op te sit. Hormone… Aarbei-smoothies en ’n baie pienk kombuis later.
Wat sal jy red in ’n brand?
My rekenaar en ons fotoboks.
SOURCES
Foto van Iné: Mardilise Burger Foto van vleisbolletjies: © Penguin Random House / Sean Calitz