Terrence Ford is die uitvoerende sjef by die African Pride Crystal Towers Hotel & Spa en is onder sy kollegas in die bedryf bekend as die gaafste man in die kombuis – nogal raar in die kombuise van vyfsterhotelle waar die hitte nie altyd net van die kospotte af kom nie!
Maryke Roberts
Sy belangstelling vir kos kom van sy dierbare ma af, want elke liewe dag het sy hom as tiener ná skool gebel as hy sy skooltas neergesit het en hom dan stap vir stap verduidelik hoe om sy aandete te maak, terwyl sy gewerk het. Daar was elke dag iets anders; die een dag rysgeregte en dan die ander dag groentes, tot hy sy eie maaltyd kon maak. Dit het hom so geïnspireer dat hy sy opleiding by die Granger Bay-hotelskool gaan kry het.
Resep klik hier vir Terrence se resep vir sampioen-veloute
Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het?
’n Maaltyd is nie vir my romanties as jy dit nie deel met iemand wat spesiaal vir jou is nie. Dit maak nie saak wat jy eet nie; enige maaltyd kan romanties wees as dit met iemand gedeel word. Jy kan tot ’n toebroodjie eet en dit sal romanties wees. As ’n maaltyd met liefde gemaak word, is dit die enigste bestanddeel wat die romanse bring.
Wat is jou terugvaldis as jy vinnig iets moet kook?
Groen Thaikerrie: vinnig en lekker met hoenderborsies, groen Thaikerrie, pasta en garnale.
Wat is die een dis wat jou vriende of familie telkemale voor vra en jy oor en oor moet maak?
Lamspotjie, of eintlik enige potjie wat oor die oop vuur gemaak word, is ’n gunsteling onder my familie en vriende.
Hoe sal jy jou kosstyl tuis beskryf?
Maklik, gesond, vars en vol geure met baie liefde.
Wat was jou slegste maal ooit?
Ek het nog nooit ’n enkele slegte maaltyd gehad nie, want ek waardeer wat aan my bedien word. Maar ’n belangrike ding wat baie mense vergeet, is om die regte kruie en speserye in hul kos te gebruik.
Dek jy die tafel mooi met kerse en blomme en naambordjies, of hou jy van informele bediening?
Informeel is meer my styl. Ek is nie rêrig die tipe man wat baie van kerse en blomme op tafels hou nie, maar as dit nodig is, sal blomme en kerse definitief gebruik word om ’n goeie indruk te skep. Veral vir daardie spesiale iemand.
Watter kosreuk herinner jou aan jou ouma of oupa?
Piesangbrood, my ouma aan my pa se kant, het die beste piesangbrood onder die son gemaak.
Watter drie bekende mense sal jy nooi vir aandete en hoekom?
Dwyne “the rock” Johnson, omdat hy my motiveer om ’n gesonde leefstyl te volg en deursettingsvermoë geleer het; Paul van Dyk, omdat ek baie mal is oor elektroniese dansmusiek en hy is my musiekheld. En laastens sjef Grant Achatz, die top-sjef by Alinea-restaurant. Hy is my inspirasie om ’n beter sjef te wees en om nooit op te hou interessante en nuwe disse te maak nie.
Wat sal op die spyskaart wees?
Iets gesonds, iets om hulle vol te maak, iets interessants, iets wat tuis is aan Suid-Afrika en iets wat eie is aan my.
Wat is jou trooskos?
Enige kos wat ’n liefdevolle ma vir haar familie maak, want kos wat deur ’n ma gemaak word, smaak altyd beter.
Watter krui of spesery gebruik jy die graagste in jou kos?
Daar is nie een spesifieke een nie – een dag sal ons roosmaryn gebruik en dan agterkom dat dit te sterk is vir die geur wat ons soek en dan sal ons dit vervang met iets sagters soos tiemie. Ek dink tiemie kry nie genoeg erkenning in Suid-Afrikaanse kombuise nie, en dis eintlik ’n wonderlike geur in vleis- en visdisse.
Wat is jou lewensleuse?
“To be the rainbow in people’s clouds.”
Wat is jou gunstelingkookboek?
The French Laundry deur Thomas Keller.
Wat is jou doodsonde met kos?
Om roomys uit die bak te eet, is my skelm plesiertjie.
Wat is jou een geheim vir ’n lekker braai?
Om die kole op die regte temperatuur te hê.
Wat is jou gunsteling-kosbestemming?
Ek geniet die egte Suid-Afrikaanse markte hier in Kaapstad.
Is daar een dis wat jy nie eet nie en ook nie graag berei nie?
Ek eet en maak glad nie pens en pootjies nie, dit is nie vir my ? lekker smaak nie.
Wat is jou gunstelingwyn en met watter dis drink jy dit graag?
’n Goeie glas cabernet sauvignon met ’n heerlike ryk lamsbredie smaak vorentoe.
SOURCES
Verskaf