Matthew Gordon is ’n sjefkonsultant vir verskeie bekende restaurante en wynplase en ook die nuwe sjef by Laborie se restaurant, Harvest at Laborie, ’n tapasstyl-restaurant met ’n onbelemmerde uitsig oor die wingerde en die Paarl. Hy beskryf sy kookstyl as modern Suid-Afrikaans met ’n kinkel. Sy opleiding was in die tradisionele Franse styl, wat ’n wonderlike basis gevorm het.
Maryke Roberts
Hy het op 12 jaar begin kook toe hy op vakansie saam met sy ouma in Durban was. Sy formele kook-opleiding het hy by die hotelskool in Johannesburg ondergaan voor hy sy vlerke gesprei het en onder meer in Vancouver in Kanada, Londen en Tokio gewerk het. Hy was ook al gassjef in New York, Houston en Moskou.
Resep Matthew Gordon van Harvest at Laborie se Branderige lamsfrikadelle met Romescosous
Wat is jou gunsteling-Laboriewyn en met watter dis drink jy dit graag? Ek is mal oor die vlagskip-shiraz, wat na die stigter, Jean Taillefert, vernoem is. Ek drink en bedien dit graag saam met kruisskyf of lamsvleis.
Wat was die romantiesste maal wat jy nog geniet het? O, ek het baie romantiese maaltye op vakansies in Mauritius met my vrou geniet, maar dit was voor ons kinders se geboorte.
Watter kosreuk herinner jou aan jou ouma en oupa? My ouma was ’n uitsonderlike kok. As ons saam met haar op vakansie gegaan het, het sy altyd vir ons worsrolletjies gebak, ook broskoek en Crunchie-koekies. Yum.
Wat is jou een wenk vir ’n heerlike braai? Altyd die beste bestanddele, koue bier, uitstekende wyn en Namibiese harde hout (kameeldoring) vir die vuur. Die kole is só goed, jy kan bykans ontbyt daarop maak.
As jy drie bekende mense kan nooi vir ete, wie sal dit wees? Jeff Bridges (akteur), Gordon Ramsay (sjef) en ons eie Charlize Theron.
Wat is jou gunstelingkosbestemming? Ek is lief vir Londen en Parys. Ek was nog nie in Spanje en Italië nie, maar glo ek sal mal oor daardie plekke ook wees.
Is daar een dis wat jy nie graag berei nie? Ek is nie mal oor kaas nie. Ek het geen probleem om kaasdisse te maak nie, ek is net nie mal daaroor nie.
Wat is trooskos vir jou? My vrou, Nicky, se lamskerrie. Dis ook ons kinders se trooskos.
Watter krui of spesery gebruik jy die graagste in jou kos en watter krui dink jy kry nie genoeg aandag in Suid-Afrikaners se kombuise nie? Ek is lief vir basilie en grasuie, my twee gunstelingkruie, maar ek is ook lief vir kerwel, wat nie baie bekend is nie en skaapsuring (sorrel) wat heerlik saam met salm smaak.
Wat is jou lewensleuse? Jy moet hou van die werk wat jy doen. Meer as die helfte van jou lewe gaan daarin. En in terme van kosmaak: KISS: keep it simple, stupid.
Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op? Die veelsydigste bestanddeel is suurlemoen. Dit lig enige dis, soet of sout. Ek gebruik dit baie graag.
Is daar een dis wat jou vrou, broer, ma of suster, maak waaroor jy mal is en waarvoor jy gereeld vra as jy nie lus is vir kook nie? Ek is baie bevoorreg dat my hele familie goed kook. My vrou maak onder meer ’n ongelooflike lamskerrie, my ma maak ’n heerlike ontbeende gestopte hoender, my broer braai heerlik met lekker slaaie. En my 11-jarige dogter het nou ook begin kook, sou hou hierdie spasie dop!
Wat is jou gunstelingkookboek? Ek hou van Season to taste deur Liam Tomlin en enige kookboek deur Franck Dangereux.
Wat is jou terugvaldis as jy vinnig iets moet kook? Pasta of ’n onweerstaanbare toebroodjie.
Meer inligting
• Bespreek by Harvest at Laborie by Harvest at Laborie in Tailleferstraat, op die Laborie landgoed, by (021) 807-3095, stuur epos na [email protected] of besoek www.harvestatlaborie.co.za
• Loer by www.matthewgordon.co.za of volg Matthew op Twitter by @matthewchef
SOURCES
Clifford Roberts