Dit is jou demokratiese reg om lekker te kuier met vriende en familie om die braaivleisvuur hierdie Erfenismaand en 24 September, wat ook bekend staan as Nasionale Braaidag, het dinge nou net lekker ingelei en wie beter om jou raad te gee met resepte as Jan Braai?
Maryke Roberts
Sy nuutste boek, Die demokratiese republiek van braai, het pas by Human & Rousseau verskyn en daarin deel Jan sy beste braairesepte met ons. Met Jan se uitsonderlike braairesepte vir steak, hoender, lam en nog baie meer is daar geen verskoning om ooit weer smaaklose braaivleis voor te sit nie.
Jan Scannell – beter bekend as Jan Braai – is ’n Suid-Afrikaanse instelling so eie aan ons land as sy groot passie, vleis en vleisbraai. Jan het Nasionale Braaidag eiehandig ’n jaarlikse kuier- en kosfees gemaak deur Erfenisdag nie-amptelik te herdoop tot Braaidag. Die een aktiwiteit wat alle Suid-Afrikaners saambind, is immers om kos oor oop vure gaar te maak.
Die demokratiese republiek van braai is ook in Engels beskikbaar as The Democratic Republic of Braai en word deur Bookstorm uitgegee. Vir meer inligting oor Jan Braai besoek gerus braai.com.
Waar kom jou belangstelling in kos vandaan en wat is jou vroegste herinneringe aan braai?
As kind het ons gesin gereeld by die huis gebraai, selfs op weeksaande. Op Sondae by een van die twee grootouers se huise, so baie in familieverband.
Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het?
Seker maar gebraaide oesters met vonkelwyn! Dis baie maklik, ´n mens gooi so ´n bietjie gerasperde parmesaankaas, suurlemoensap, sout en peper oor elke oester en sit hom vir so drie minute skulpkant na onder op die rooster oor die kole neer.
Wat is jou terugvaldis as jy vinnig iets moet braai?
Daar is ’n paar: as jy lekker boerewors het, dit op ’n rolletjie. Ek glo nie ´n mens moet ooit slegte boerewors braai nie, maak dus seker jy koop een wat jy ken. Met lekker boerewors is ek nie lief vir die smaak doodgooi met souse nie, ek braai die wors dat hy nog lekker sappig en vol van sy eie sous is, en eet hom netso in ’n vars rolletjie. As daar nie lekker boerewors beskikbaar is nie, dan braai ek ’n steak, sny hom in dun repies en maak steak prego rolls met peri-peri-sous. En laastens is my vinnige oplossing om hoenderborsies te braai en saam met kaas, tamatie, blaarslaai en mayo op ’n rolletjie te sit as ’n hoenderburger. Soos jy kan sien, is hierdie alles dinge wat jy met die hand kan eet, as jy gou vinnig langs die pad by ’n piekniekplek braai.
Wat is die een dis wat jou vriende of familie telkemale voor vra en jy oor en oor op die kole moet moet maak?
Sjoe, daar is heelwat! Potjiegeregte is altyd baie gewild by almal. Kom ons sê ’n kerriepotjie.
Hoe sal jy jou kosstyl tuis beskryf?
Gemaklik.
Wat is vir jou belangrik by ’n suksesvolle braai?
Genoeg droë hout om ’n behoorlike vuur te maak. Vars en behoorlike bestanddele en ’n goeie rooster en tang. Ek verkies dit as my gaste niks breek by die braai nie!
Watter kosreuk herinner jou aan jou ouma en oupa?
Roomys met sjokoladesous herinner my aan my een oupa en ouma. Klapperys herinner my aan my ander oupa en ouma.
Watter drie bekende mense sal jy vir ’n lekker braai nooi en hoekom?
Barack Obama lyk vir my soos ’n lekker ou in die regte lewe. Ek dink hy sal nogal kan uithaak langs ’n braaivuur. Desmond Tutu weet ek is ’n lekker ou, en laastens sal ek dan vir Annie Leibovitz nooi, want as ek saam met eersgenoemde twee braai soek ek defnitief ’n paar lekker foto’s daarvan!
Wat sal op die spyskaart wees?
Vir voorgereg vars vis. Dan lamstjops. Volgende behoorlik droog verouderde steaks, T-been or rib-oog met braaibroodjies, en vir nagereg sal ek vir ons malvapoeding in die potjie bak.
Watter krui of spesery gebruik jy die graagste oor braaivleis en watter krui dink jy kry nie genoeg aandag in Suid-Afrikaners se kombuise nie?
Lekker growwe seesout, peper, knoffel, suurlemoensap en goeie Suid Afrikaanse olyfolie is my groot vyf. Persoonlik gebruik ek ook nogal baie paprika. Dis nou nie so vreeslik omgewoon nie, maar ek dink mense kan dit dalk meer gebruik. Die ding wat vir my heeltemal te veel in Suid-Afrikaanse kos gebruik word, is vars roosmaryn. Dit is vreeslik sterk en oordonderend, maar ek dink dis omdat die plante so lekker maklik groei orals in die land. Almal is só trots op hulle een kruieplantjie wat oorleef het, dat hulle takke vol van die goed in die kos gooi.
Wat is jou lewensleuse?
As jy wonder of die vuur groot genoeg is, dan is die vuur te klein.
Is daar een dis wat jou vrou beter maak as jy waaroor jy mal is en waarvoor jy gereeld vra as jy nie lus is vir kook nie?
Ek dink dat tee altyd beter smaak as iemand anders dit maak. Dit is deur die bank so.
Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op?
’n Lekker glas wyn langs die kant.
Wat is jou gunstelingkookboek?
JanBraai – Die demokratiese republiek van braai. Ek is nou nie objektief nie, maar ek dink regtig dit is ’n baie goeie boek. Mens moet tog sekerlik nie ’n boek uitgee tensy jy dink hy is die beste nie!? Anders moet jy eerder vir mense verwys na ander boeke, of jy moet aanhou werk totdat jy dink jou boek is die beste, en dis wat ek gedoen het.
Wat is jou doodsonde met kos?
Daar is ’n paar goed waarvoor ek sukkel om nee te sê: Stoney-gemmerbier, daai Prawn Cocktail tjips van Woolworths, ek’s nie so groot op blokke sjokolade nie en was ook nooit so ’n groot Smarties-eter nie, maar speckled eggs (dit het nie bestaan toe ek ’n kind was nie) is vir my baie lekker. Dan ook daardie rolletjies wine gums. Party supermarkte het sulke masjiene wat vars lemoensap uitdruk. Ek dink daai bottel leeg nog voor ek by die winkel uit is.
Wat was die lekkerste kompliment wat jy nog van ’n leser van jou kookboeke gekry het?
“Dis so lekker vir ons hele gesin, want my man maak nou so lekker kos”
Wat is jou gunsteling-kosbestemming?
Kaapstad
Is daar een dis wat jy nie eet nie en ook nie graag berei nie?
Afval
Wat is jou een geheim vir die beste biefstuk oor die kole?
Baie warm kole (en goeie biefstuk!)
Wat is jou gunsteling-kombuisgereedskap wat onontbeerlik is by jou braai?
’n Skoon braaitang. ’n Reguit rooster. ’n Vleistermometer (om te kyk of die vleis reg is, dat jy dit nie oorbraai nie).
SOURCES
Verskaf