Sjef Francois Ferreira is hoof van die Eden School of Culinary Art, resep-ontwikkelaar en kookboekskrywer; skryf gereeld koerantrubrieke en is ook ’n gewilde radio- en TV-persoonlikheid. Sy nuutste kookboek, Koskaskos, het pas by Lapa verskyn.
Maryke Roberts
Hy is jaarliks een van die groot aantrekkingskragte van die jaarlikse portfees wat voortaan as Winter in Calitzdorp bekend sal staan. Hy behartig twee kookdemonstrasies en praatjies in sy unieke styl: “Afro Portuguese” by Boplaas en “Tango van Smake” by De Krans by die geleentheid wat van 13 tot 15 Junie op Calitzdorp gehou word.
’n Koskas wat deeglik beplan is, word die lewensbloed van enige kombuis en verteenwoordig die noodsaaklik boustene van voedsame en watertandlekker maaltye. ’n Verdere voordeel is dat ’n ordentlike koskas jou die moeite spaar om na die naaste winkel te jaag vir daardie een bestanddeel wat nodig is om ’n heerlike maaltyd voor te berei – dit maak nie saak of daardie maaltyd vir die gesin of vir onverwagte gaste voorgesit word nie.
Koskaskos gee nie net raad oor die noodsaaklike kruie, speserye en kositems wat in jou koskas hoort nie, die resepte gebruik ook gewone bestanddele uit jou koskas en help jou om hulle op vindingryke maniere voor te berei, sodat alledaagse bestanddele en disse in buitengewone geregte omskep word.
Daar is ook wenke om die regte geure te kombineer sodat gewone bestanddele in uithalergeregte transformeer kan word wat die gesin én gaste sal laat vra vir ’n tweede skeppie.
Die boek bevat meer as 180 resepte met verskeie variasies en is in Engels beskikbaar as Cupboard cuisine.
RESEP Francois se gebakte tamatiehoender (uit Koskas)
Waar kom jou belangstelling in kos vandaan en waar het jy jou opleiding ondergaan? Ek is seker ek is gebore om te kook. Op die ouderdom van nege het ek al aan ’n koekbak-kompetisie deelgeneem.
Hoe voel jy oor die opkomende winterfees in Calitzdorp en hoekom geniet jy dit so baie? Calitzdorp is ’n baie spesiale plek met ‘n spesiale energie en wonderlike mense, natuurlik moet ’n mens nie van die wyn en port vergeet nie!
Hoe sal jy jou kosstyl tuis beskryf? Simplisties en gesond.
Wat is jou terugvaldis as jy vinnig iets moet kook? Pap en vleis.
Wat is die een dis wat jou vriende of familie telkemale voor vra en jy oor en oor moet maak? My Cassolet of ’n kerrie.
Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het? Terwyl ek in Namibië gewoon het, het ek ’n maaltyd tussen die duine in Sossusvlei geniet – ons kon nie braai nie, maar het heerlike koue vleise, brode en kase met vonkelwyn gehad.
Wat was jou slegste maal ooit? Ek hou van afval, maar eendag het iemand vir my “groen” afval (afval wat nie goed skoongemaak is nie) gegee. Ek kon vir jare daarna nie afval eet nie.
Watter kosreuk herinner jou aan jou ouma en oupa? My ouma: anysbeskuit – sy het altyd beskuit gebak en gevoel ’n huis is nie ’n huis sonder beskuit nie. My oupa: koljander – hy het die lekkerste biltong gemaak.
Watter drie bekende mense sou jy graag vir aandete nooi en hoekom? Peter Veldsman – hy vertel die beste stories oor kos en ken die disse se geskiednis; FW de Klerk – dit sal net lekker wees om weer vir hom te kook en Errieda du Toit – sy kan so mooi oor kos skryf en praat.
Wat sal op die spyskaart wees? Hartskos met geure wat my aan elke persoon herinner
Wat is trooskos vir jou en hoekom? Pap met boeliebief wat in tamatie en uie gebraai is. Dit was my trooskos terwyl ek in die lugmag op die grens was.
Watter krui of spesery gebruik jy die graagste in jou kos en watter krui dink jy kry nie genoeg aandag in Suid-Afrikaners se kombuise nie? Ek hou van oregano, basilie en so meer, maar ek gebruik dragon gereeld en is verbaas dat meer mense nie die krui ken nie.
Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op? Saffraan kan enige vervelige dis optert.
Wat is jou lewensleuse? Jy is net so goed soos jou laaste bord kos
Wat is jou gunstelingkookboek? Good French Cooking deur Mapie, Comtessse Guy de Toulouse – Lautrec
Wat is jou doodsonde met kos? Vars wit brood met botter, grondboontjiebotter en appelkooskonfyt.
Wat is jou een geheim vir ’n lekker braai? Ek braai nie gereeld nie, maar ek glo dat die vuur nie te warm moet wees nie – veral as jy skaapribbetjies braai.
Wat is jou gunstelingkosbestemming? Parys, Frankryk, nie Vrystaat nie.
Is daar een dis wat jy nie eet nie en ook nie graag berei nie? Skaapkop
Wat is jou gunstelingwyn en met watter dis drink jy dit graag? Shiraz of een van die Portugese kultivars van Calitzdorp – die wyne is só veelsydig dat jy dit met sjokolade, vleis of vis kan bedien.
Hoe voel jy oor jou boek en wat is jou droom vir die boek? Ek is geweldig trots op die boek en die terugvoer is ongelooflik. My droom is dat die boek in ’n tweede of derde druk moet gaan en goed doen by die Gourmand Cookbook Awards.
SOURCES
Verskaf