Amelia Hanekom, uitvoerende sjef by Ernie Els Wyne teen die Helderberg net buite Stellenbosch, het ondervinding opgedoen in verskeie van Suid-Afrika se toprestaurante.
Maryke Roberts
Sy is een van die sjefs wat vanjaar by die agtste Taste of Cape Town-kosfees in aksie te sien sal wees. Dié gewilde kosfees sal weer van Vrydag 10 tot Sondag 12 April 2015 by die Groenpunt-krieketklub gehou word. Toprestaurante sal feesgangers beïndruk met hul kulinêre flair.
Amelia is sonder pretensies en verkies dus geregte soos smaaklike burgers of murgsagte biefstuk bo uitermatig gekompliseerde geregte. Sy glo daarin om in haar personeel te belê en hulle te lei om beter in hul werk te wees. Sy het op skool begin kolwyntjies bak. Haar familie het dit baie geniet en sy het al hoe meer begin bak. Haar kolwyntjies het gelei tot eclairs en eclairs het haar gelei na Prue Leith in Pretoria.
Resep Amelia se resep vir stadig-geroosterde varklies met sampioenrisotto
Is daar iets wat jy nie eet nie? Ek het ’n kleintjie dood aan die reuk en tekstuur van piesangs, so ek eet dit glad nie.
Watter smake of geure laat jou aan jou grootouers dink? Kaneel laat my aan my ouma dink, sy bak die lekkerste souskluitjies van ’n resep wat amper 200 jaar oud is. Cream soda laat my altyd aan my oupa dink.
As jy op ’n eiland uitspoel, wat sal jy nodig hê om te kook? ’n Vuur en ’n mes, die res kan ’n mens in die natuur bymekaar maak
Watter drie bestanddele is altyd in jou huis/koskas/yskas? Knoffel, uie en rissies.
As jy ’n drankie kon wees, wat sou jy wees? ’n Gin en tonic met ’n skyfie komkommer.
As jy drie bekende gaste kan nooi vir ete, wie sal dit wees en wat sal jy voorsit? Die drie gaste wat ek sal nooi vir ete is Nataniël, sodat hy vir my ’n paar wenke vir tafeldek kan gee; Gordon Ramsay vir ’n eerlike opinie oor die kos en Ellen de Generis vir ’n grappie of twee. Ek sal vir hulle my gunsteling-gereg, die stadig-geroosterde varklies met sampioenrisotto bedien.
Wat was jou romantiesste maal nog? Hierdie een is te danke aan my kêrel: Valentynsdag vanjaar het ek by die huis gekom en gesien hy het die tafel vir twee op die stoep gedek met die Helderberg in die agtergrond. Wat gevolg het, was ’n fantastiese vyfgangmaal met wynkombinasies en paletreinigers.
Wat is jou terugvalresep as jy iets vinnig moet voorberei? ’n Vinnige tamatie- of botterskorsiesop.
Wat is die een dis wat jou vriende of familie telkemale voor vra en jy oor en oor moet maak? Appeltert.
Wat is jou lewensleuse? Hou dit eenvoudig.
Hoe sal jy jou kookstyl beskryf? Gemaklik.
Is daar een krui wat te min in Suid-Afrikaanse kombuise gebruik word? Ek voel alle kruie word te min in Suid-Afrika benut, maar my gusteling van die lot is vir seker tiemie.
Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op? Sout beklemtoon alle geure.
Wat is jou gunstelingkookboek? Ek dink almal se gunstelingkookboek behoort die resepte te wees wat hulle oor die jare bymekaar maak.
Wat is jou doodsonde met kos? Ek kan nie my vingers uit ’n lekkergoedpakkie hou nie.
Is daar een dis wat jou ma, suster of vriend maak waaroor jy mal is en waarvoor jy gereeld vra as jy nie lus is vir kook nie? As ek huis toe gaan, is daar altyd twee goed waarvoor ek lus is: my ma se macaroni en kaas met spek in en my pa se hoenderbraai.
Wat is jou een geheim vir ’n lekker braai? Goeie wyn.
Wat is jou grootste kombuisflater oor die jare? Ontelbare brandwonde oor die jare.
Wat sal jy red in ’n brand? My twee honde.
Meer inligting
• Ernie Els Wyne, Annandalepad, Stellenbosch, 021 881 3588, [email protected], www.ernieelswines.com
• Taste of Cape Town, by www.tasteofcapetown.com
• Feeskrone, die fees se amptelike geldeenheid, word ingespan om eetgoed en drinkgoed te koop. Elke feeskroon is R5 werd en die pryse van die geregte wissel van 4 tot 8 kroon per gereg.
• Facebook: www.facebook.com/tasteofcapetown of Twitter: @tasteofCT
SOURCES
Verskaf